Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Volksblad sê: Speelman-straf van ANC is nie gewisse dekreet

Nkosinjani Speelman, omstrede burgemeester van Matjhabeng (Vrystaatse Goudveld), se straf is ’n groot stap vir die ANC. Dit is ’n eindelike erkenning dat lede van die party, ook hooggeplaastes, rassisties kan optree.

Speelman is deur ’n Vrystaatse ANC-tugkomitee skuldig bevind aan twee van ses klagte – naamlik van rassistiese uitlatings en dat hy oneerbiedig teenoor sy party se etos was. As straf is hy van die burgemeesterskap onthef.

Die stappe behoort te dien as ’n merksteen vir konsekwente optrede teen alle ANC-lede wat rassistiese of selfs twyfelagtige opmerkings oor mense van ’n ander kleur maak, maar te maklik daarmee wegkom. En selfs deur opstokers in hul party in hul kwaad gesterk word.

Oor rassisme moet nooit twyfel heers nie. As daar twyfel is, is dit rassisme. En dit geskied oor alle kleurgrense heen.

Speelman het in Welkom teenoor weermaglede rassistiese opmerkings geuiter oor bruin mense, wat hy “Boesmans” genoem het, wat vasgevat moet word. Hy het dié gemeenskap se drinkgewoontes uitgewys en gesê weermaglede moet almal “skop” en “donner” wat inperkingsmaatreëls oortree.

Die optrede teen Speelman is welkom, maar gans te sagkens. Aandrang ontbreek dat Speelman remediëring moet deurloop. En ondanks die straf, mag hy ná 18 maande weer ’n ANC-amp beklee!

Die tugkomitee het ter versagting sy verklaring aanvaar dat hy nie ’n rassis is nie. Die vraag hoekom hy dan rassisties van landgenote praat, bly onbeantwoord.

Waaroor net bespiegel kan word, is of optrede sou gevolg het sonder die videogetuienis van die voorval. En watter rol politieke oorwegings gespeel het – om nie dalk ANC-kiesers by die stembus te vervreem nie. As dit klinkklare nie-ANC-kiesers was, sou dit die party enigsins gesteur het?

Dit bied geen riglyne vir grensgeval-opmerkings, ook oor wit mense, waarvoor Jacob Zuma, Ace Magashule, Panyaza Lesufi en Olly Mlamleli lief is.

Die raskaart en rasdiskriminasie, albei ou ANC-staatmakers, is geensins besweer nie.

Die ras-heilige ANC klop homself dalk op die skouer, maar die beslissende dekreet teen rassisme wat so nodig van die bewindsparty is, is dit nie.

Meer oor:  Kommentaar  |  Hoofartikel  |  Volksblad Sê
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.