Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Volksblad sê: Zondo moet beslissend optree in 2020
Zondo
Hlaudi Motsoeneng getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

In 2019 het getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opskudding, pret en spektakels opgelewer en soos ’n treffersparade van elitekaders gelyk. Van pronkers, soos Hlaudi Motsoeneng, Mzwanele Manyi en Fana Hlongwane, tot selfverontskuldigende amptenare het getuig.

Die voormalige Nommer Een se arsenaal streke was te lig vir die kartetse van adv. Paul Pretorius, getuienisleier. Angelo Agrizzi het gewys hoe sy base­ by Bosasa (een van vanjaar se mees gesoekte woorde op Google in Suid-Afrika) pakke geld soos lekkergoed uitgedeel het. En die Watsons (Gavin nou saliger) het as ’n staatskapingsfamilie tot die geledere van die Shaiks en die Guptas toegetree.

Die name van Jacob Zuma en Ace Magashule het bly weerklink. En Peter Hain het die “georganiseerde rowery” onder ANC-bewind kom betreur.

Maar bykans 18 maande nadat die kommissie onder adjunkhoofregter Raymond Zondo sy werk begin het, wag Suid-Afrikaners nog vergeefs op vervolging. Die twee jaar – pleks van ’n aanvanklike 180 dae – vir die kommissie se werk verstryk in Augustus 2020. Die langer tydperk is toegestaan ná Zondo se destydse pleidooi om “ ’n regverdige balans” tussen tydsverloop en deeglike werk.

Onder ANC-bewind het landgenote ongelowig geraak oor beloftes oor die stryd teen korrupsie.

Onder ANC-bewind het landgenote ongelowig geraak oor beloftes oor die stryd teen korrupsie.

Die Zondo-kommissie hervat op 13 Januarie sy pligte. Solank hy nie met klinkklare aanbevelings oor vervolging kom nie, gaan die wolk van twyfel oor die land, aangestu deur Eskom-donkerte, SAL-bankrotskap en ander staatsfiasko’s, nie wyk nie.

Landgenote wat hunker na reg en geregtigheid as grondslag vir ’n eerlike bestel en die bou van die land wíl kalante soos Zuma, Magashule (die “blesser” van die Vrystaat), Mosebenzi Zwane en alle bedrieërs in die hof sien.

Hoe gouer die Zondo-kommissie die stokkie aan die nasionale vervolgingsgesag oorgee, hoe beter. Dan kan die NVG, wat herstel van die aanslag op sy werking en geloofwaardigheid, weer staal toon.

Die Zondo-kommissie is nie ’n hof nie. Getuienis daar geld nie vir strafregtelike vervolging nie.

Nogtans is hy geroepe om die begin van die einde vir staatsrowery in te lui. En die NVG moet toesien dat die buiters kry wat hulle verdien.

In 2020. Anders is dit te laat.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Hlaudi Motsoeneng  |  Hoofartikel  |  Nvg  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.