Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: Bal nou in hande van Suid-Afrika
TOKYO, JAPAN -  NOVEMBER 02:  Siya Kolisi, captain
Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, en pres. Cyril Ramaphosa hou die Web Ellis-trofee omhoog. Foto: Getty Images

Ná die aankondiging van die Springbok-span vir die Wêreldbekertoernooi in Japan het Beeld die versugting uitgespreek dat hul vertoning die vonk sal wees wat die droom van nasiebou weer in ons land sal laat vlam vat.

Sonder om onrealisties te wees oor hoe ver die krag van sport strek, het tonele landwyd ná hul sege in die eindstryd en Dinsdag op die O.R. Tambo-lughawe, waar Suid-Afrika die Wêreldbrekers verwelkom het, bevestig dat ’n nuwe samehorigheidsgevoel inderdaad onder Suid-Afrikaners vaardig is.

Veral verblydend was om op TV en sosiale media te sien hoe ’n jong geslag Suid-Afrikaners hulle in hul diversiteit – en met uitbundige vreugde – agter die Bokke verenig.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het wyse woorde gehad oor hoe die landwye golf van optimisme verder gevoer kan word: “Suid-Afrika moenie doemprofete se woorde bewaarheid deur die eenheid prys te gee wat die Bokke sege tot gevolg gehad het nie. Dit het 57 miljoen Suid-Afrikaners nader aan mekaar gebring. Ons moet dié eenheid gebruik as ’n stewige grondslag om die probleme in die land te help oplos.”

Francois Pienaar meen die 2019-sege is groter as dié van sy span in 1995 omdat vanjaar se Bokke ’n getransformeerde span is.

Francois Pienaar meen die 2019-sege is groter as dié van sy span in 1995 omdat vanjaar se Bokke ’n getransformeerde span is en die ondersteuning vir hulle “eenvoudig ongelooflik” is.

Dit is ’n bietjie soos om appels met pere te vergelyk. Die 1995-sege, gekombineer met oudpres. Nelson Mandela se charisma en doelgerigte pogings, het tot ’n golf van nasiebou en versoening gelei wat argumentshalwe jare lank voortgeduur het.

Die groot verskil is dat miljoene Suid-Afrikaners hulle met vanjaar se verteenwoordigende span kon vereenselwig en die sege hoop tot in die verste uithoeke van die land gebring het – ook in townships soos Zwide, waar Siya Kolisi grootgeword het.

Die Springbokke, onder leiding van hul meesterstrateeg, Rassie Erasmus, het vir hul landgenote ’n #SterkerSaam Suid-Afrika op ’n skinkbord persent gegee. Die bal is nou in die hande van die groot middelgroep Suid-Afrikaners om – ondanks polariserende populiste – die grense van ras, kleur en kultuur oor te steek in die versterking van hierdie nuutgevonde nasionale harmonie en identiteit.

Meer oor:  Francois Pienaar  |  Bokke  |  Boksege  |  Bal  |  Springbok-Span  |  Wb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.