Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: CR en ANC se vasklou aan SAL hoogs vreemd
Pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Argief/Deo Raath

Pres. Cyril Ramaphosa, sy regering en die ANC se repudiëring van die SAL-sakeredders oor die afskaffing van bepaalde vlugroetes is ’n eie doel wat behaal is teen enige sinvolle vordering. Dit is ook hoogs onvanpas dat hulle in dié stadium teen bevindings in ’n wetlik onafhanklike proses uitvaar.

Daarom is dit te verwelkom dat Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders, volstaan met hul besluit dat bepaalde binnelandse roetes van die SAL geskrap moet word, met die gevolglike vermindering van poste. Hulle noem tereg in ’n verklaring dat dié stap onvermydelik is om die lugdiens kommersieel volhoubaar en onafhanklik van voortdurende reddingspakkette deur die regering (lees: die belastingbetaler) te maak.

Dit blyk uit die regering se reaksie dat rolspelers die sakereddingsproses nie ten volle begryp nie en vasklou aan die gek idee dat alles kan bly soos dit is by die SAL, maar dat dit dan steeds gered kan word.

Ramaphosa, sy regering en die ANC het hul kans gehad en dit heeltemal verspeel. Dit is deur hul toedoen dat die SAL beland het in die situasie waarin hy is en hulle kon dit nie omdraai nie. Hulle is gedwing om sakeredders aan te stel nadat dit in elk geval onvermydelik was dat ander instansies dit deur die howe sou afdwing.

Ramaphosa, sy regering en die ANC het hul kans gehad en dit heeltemal verspeel.

Maar nou is dit die sakeredders se beurt en wetlike plig om te doen wat rasioneel moontlik is “om die saak te red”.

In ’n berig elders die naweek sê Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, hy meen as die SAL nie gered kan word nie, moet dit gesluit word – ’n standpunt wat lank reeds deur Tito Mboweni, minister van finansies, gehuldig word. Hopelik bring Mantashe se standpunt groter nugterheid by die magshebbers oor die onvermydelike wat hulle probeer uitstel.

Ramaphosa en sy kollegas se reaksie is uit vrees vir Cosatu-vakbonde wat die lugdiens tot elke prys probeer lewend hou om hul hoogs onproduktiewe lede daar in diens te hou. En dit dan naas Eskom slegs die tweede plek ter wêreld te maak waar jy nie jou werk kan verloor nie. Dis onhoudbaar dat belastingbetalers die werksekerheid van ’n paar duisend werknemers ten koste van ekonomiese groei subsidieer. Die geleenthede wat ontsluit kan word as die staatsondernemings se wurggreep op die staatskas en ekonomie gebreek word, kan juis meer geleenthede vir van die miljoene werkloses in die land bied.

Die wanklanke oor die SAL-kwessie versterk nie juis vertroue so kort voor Ramaphosa se staatsrede voor die parlementsopening en die begrotingsrede kort daarna nie. Verbeeldingryker denke gaan nodig wees om die land weer op ’n wenpad te plaas.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.