Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: Creecy se besluit oor vuil lug laat talle vrae ontstaan
Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye. Foto: Jabu Kumalo

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het Vrydag toestemming aan Eskom en Sasol gegee om twee keer soveel swaeldioksied (SO2) as waarop aanvanklik ooreengekom is, in die lug vry te stel.

Geen mediakonferensie is gehou om haar besluit aan Suid-Afrikaners te verduidelik nie.

As dit nie was vir die wakker regslui by die Sentrum vir Omgewingsregte (SOR) wat Creecy en haar amptenare heeltyd dophou nie, sou burgers glad nie daarvan geweet het nie.

Waar Creecy se amptenare gewoonlik mediaverklarings per e-pos aan omgewingsjoernaliste uitstuur wanneer belangrike aankondigings gedoen word, is dit dié keer nie gedoen nie.

Nadat Melissa Fourie, direkteur van die SOR, ’n twiet met die inligting gestuur het, is ’n soektog na die verklaring op tou gesit. Dit was toe op die departement se webwerf.

Creecy se optrede as die minister wat die verantwoordelikheid het om die natuurlike omgewing te beskerm, ontlok meer vrae as antwoorde.

Creecy se optrede as die minister wat die verantwoordelikheid het om die natuurlike omgewing te beskerm, ontlok meer vrae as antwoorde.

Hier is geen geleentheid gegee om vrae te vra sodat sy redes kon verskaf nie. Creecy het die besluit eensydig geneem. Dit is strydig met die gees van die Grondwet, wat bepaal elke Suid-Afrikaner het die reg op ’n skoon en gesonde omgewing.

Wat Creecy se handeling ook kommerwekkend maak, is dat bewaringsorganisasies en organisasies wat hulle vir menseregte beywer, langer as tien jaar met die opeenvolgende ministers van omgewingsake onderhandel het oor die minimum standaarde waaraan Sasol en Eskom se steenkoolkragstasies moet voldoen. Dit het net begin lyk of die partye mekaar se vertroue het en hulle ’n ooreenkoms sou kon bereik.

Creecy het Sasol en Eskom nou toestemming gegee om maar voort te gaan om die vuil lug wat Suid-Afrikaners reeds inasem, verder te besoedel. Die standaarde waaraan Eskom en Sasol nou moet voldoen, is 28 keer so swak as die vereistes wat selfs die Chinese Kommunistiese Party aan sy nywerhede stel.

Dit is ’n skande en ontlok die vraag of Creecy met ons omgewing vertrou kan word.

Omgewingsorganisasies het aangedui hulle gaan die saak nie daar laat nie.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Besoedeling  |  Hoofartikel  |  Lugbesoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.