Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: Gautengers sal infeksiesyfer slim moet systap

Met die grootste bevolkingskonsentrasie in die land, was dit te wagte dat Gauteng uiteindelik die Covid-19-brandpunt sou word.

Velerlei internasionale modelle en voorbeelde wys dat inperkings nie die virus keer om te versprei en uiteindelik ’n vreesaanjaende hoogtepunt te bereik nie. Maar dat dit tog help om die koers waarteen dit styg, beter te kan bestuur en veral om die nodige mediese voorsorg ingestel te kry.

Die brandasem-uitbrekers het merkbaar stiller geword die laaste paar weke. Hulle het ’n bykans histeriese veldtog gevoer teen mettertyd selfs enige vorm van inperking. Dit was ’n koalisie van ontleders, sommige wetenskaplikes wat nie een oor alles saamgestem het nie, heelwat ekonome, sommige media en uiteindelik toe dit na ’n golf lyk, opportunistiese opposisiepolitici ook agterna.

Koddige flaters deur onbevoegde ministers is as verskoning gebruik om ’n veldtog te voer wat die gesonde verstand van inperkings te bowe gaan. Die krake in die koalisie het begin toe hul gunsteling- internasionale modelle – met Swede as kroonjuweel sonder inperking – in duie begin stort het.

Lande wat halfhartig was oor die inperking, dit glad nie gedoen het nie en agterna moes omdraai om dit te doen, is nou loshande baie slegter af. In Amerika het die private sektor begin om “terug te rol” na strenger vlakke van inperking en in sommige lande nou ook regerings.

Ongelukkig het baie mense deur die roekelose vryery om steun van sommige gerekende rolspelers, hulself laat flous om te glo die pandemie word oordryf. Hulle wou nie “soos kinders voorgeskryf” word nie. En steur hulle steeds nie aan regulasies en veilige optrede, soos om ’n gesonde afstand te handhaaf, nie. In Suid-Afrika word dit vererger deur ’n deel van die bevolking wat weens maatskaplike omstandighede nooit ’n veilige inperking kon handhaaf nie. Soos die ekonomie oopsluit, gaan die infeksiekoers daardeur aangeblaas word.

Voortdurende terugbeweeg na strenger vlakke gaan ook nie altyd prakties wees nie. Onder omstandighede en met alle gebreke het pres. Cyril Ramaphosa se regering beter gevaar met die Covid-19-stryd as waarvoor hulle erkenning gegee word.

Maar nou is die onus groter as ooit op elke Gautenger om hulle deur hul eie optrede veilig te hou.

Meer oor:  Kommentaar  |  Hoofartikel  |  Beeld Sê
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.