
Mense staan Woensdag in ellelange rye by die Beitbrug-grenspos tussen Limpopo en Zimbabwe. Foto: Rudzani Tshikororo
Die gevolge van jare lange swak regering, veral wat sinvolle beplanning betref, het nou ook Suid-Afrika se grensposte getref.
Uiteraard skep mense se buitengewone bewegingspatrone weens die Covid-19-pandemie onvoorsiene en uitdagende probleme. Maar alle aanduidings is dat die regering nie ’n behoorlike greep op die stand van sake het nie.
Kommer oor die situasie wat die laaste paar weke by grensposte, soos Beitbrug, na Zimbabwe, en Lebombo, na Mosambiek, geheers het, is nie orals gedeel nie. Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, ontken eenvoudig dat daar ’n humanitêre ramp was en meen bloot die opeenhopings is weens druk van Zimbabwiërs wat na beter omstandighede wil gaan. En dat die druk oorgespoel het na Lebombo.
En noudat dinge begin normaliseer, wil die parlementêre portefeuljekomitee die twee grensposte besoek – op die oog af mosterd na die maal.
Swak gesondheidstoestande en dreigend humanitêre probleme wat ontstaan die oomblik as ongewone druk ervaar word, is die gevolg van onvoldoende beplanning. Beitbrug en Lebombo is waarskynlik Suid-Afrika se belangrikste twee poorte na en van Afrika.
Die onlangse poging om ’n bykomende heining by Beitbrug te bou om onwettige immigrante te keer, het vir die soveelste keer op korrupsie uitgeloop.
Daarom moes die nodige opgraderings en aanpassings aan die hand van medium- en langtermynbeplanning lankal plaasgevind het. Die onlangse poging om ’n bykomende heining by Beitbrug te bou om onwettige immigrante te keer, het vir die soveelste keer op korrupsie uitgeloop.
Indien die parlementêre portefeuljekomitee enige waarde wil toevoeg op sy (duur) uitstappie, sal daar ’n behoorlike bestekopname van toestande by die grensposte moet wees. Daar sal ook deeglik ondersoek moet word of Motsoaledi en die regering se reaksie voldoende was. Stappe is ook nodig vir multidepartementele oplossings. Dit sluit in noue samewerking met private belangegroepe, soos padvervoerverenigings, wat die regering vergeefs vooraf gewaarsku het dat probleme op hande is.
Die regering moet ook sy diplomatieke vaardighede met buurlande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap opskerp. Dit is belangrik sodat gemeenskaplike streekdoelwitte oor grensbeheer en standhoudende lewensvooruitsigte vir mense in hul onderskeie lande nagestreef word.