
Foto ter illustrasie. Deur: iStock
Die regering sit weer – soos soveel keer sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie – met ’n moeilike balanseertoertjie. Die vraag is of skole later vandeesmaand moet open soos beplan en of dit liewer uitgestel moet word totdat die ergste van die tweede vlaag van die virussiekte agter die rug is.
Daar is in dié stadium net twee maniere om veilig te bly teen die virus. Eerstens deur die nakom van fisieke maatreëls, soos die dra van maskers, gereelde was van hande en die handhawing van ’n gesonde afstand. En tweedens deur ’n entstof.
Alle aanduidings is daar dat dit nog lank gaan duur voordat kinders die entstof gaan ontvang.
Alle aanduidings is daar dat dit nog lank gaan duur voordat kinders die entstof gaan ontvang omdat die aanvanklike middels nie spesifiek vir kinders ontwikkel is nie. Dis nou benewens die feit dat die kans ook maar skraal lyk vir die gemiddelde volwasse Suid-Afrikaner om spoedig entstof te ontvang, in ag genome die regering se versuim om dit, soos ander lande, vroeër reeds te bekom.
Die skoolgemeenskap moet dus staatmaak op fisieke maatreëls om die verspreiding van die virus te voorkom. In dié opsig het die departement van basiese onderwys ’n verantwoordelikheid teenoor leerlinge en personeel – van wie talle reeds weens die virus gesterf het – om die veiligste moontlike omgewing te skep vir onderrig. Dit sluit onder meer in die beskikbaarstelling van maskers en ontsmettingsmiddels en duidelike kommunikasie aan rolspelers oor maatreëls om ’n gesonde afstand te handhaaf. Dit beteken ook dat daar lopende water en (skoon) toiletgeriewe by skole moet wees.
Indien die departement sy verantwoordelikhede nakom, is daar volgens onderwyskenners geen rede waarom skole nié kan heropen nie.
ndien die departement sy verantwoordelikhede nakom, is daar volgens onderwyskenners geen rede waarom skole nié kan heropen nie.
Die gesloer met die verkryging van entstof plaas Suid-Afrika in ’n moeilike situasie, want dit beteken ons gaan – waarskynlik langer as ander lande – moet leer om met die virus saam te leef.
Die “nuwe normaal” is ’n gonsterm wat vroeg by die uitbreking van die pandemie verlede jaar gebruik is. Maar dis eers nou – midde-in ’n tweede vlaag en met die kennis dat ’n derde en selfs vierde vlaag ons gaan tref – dat die ware omvang daarvan insink: dat die lewe moet aangaan en mense hul daaglikse handelinge moet aanpas met die primêre doel om gesond te bly.