Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: Hersien vloei van private geld na Tuks en Maties

Die byna onvoorwaardelike vloei van private geld na tradisioneel Afrikaanse universiteite moet hersien word.

Dié instellings het nog altyd baat gevind by skenkings deur maatskappye, trusts, oudstudente, boedels en vele meer uit die Afrikaanse gemeenskap. Sulke skenkings het nie net te doen met die handhawing van akademiese standaarde nie, maar het vanselfsprekend aanvaar dat ’n omvattende aanbod in Afrikaans beskikbaar is.

Die Universiteit van Pretoria en Stellenbosch het hulle nou aangesluit by die Universiteit van die Vrystaat deur hul taalbeleid ten gunste van Engels aan te pas. Hoewel hulle aanvoer dit is demografiese werklikhede en koste, was die politieke druk – ook van gewelddadige elemente – waarskynlik net te veel om te absorbeer. Anders sou hulle die sinvolle opsie van ’n meertalige beleid gekies het. Berekenings oor wat die beste opsie vir eie loopbaan en pensioen is, het waarskynlik ook ’n rol gespeel by van die professore in die senaat.

Op Stellenbosch is die plan om Afrikaans steeds aan te bied solank daar genoeg studente in ’n bepaalde vak is. In Pretoria kan huidige studente hul studie in Afrikaans voltooi en sal studie in bepaalde rigtings, soos onderwys en teologie, steeds in Afrikaans beskikbaar wees. Dit lyk asof die US-owerheid die ATKV van sy bona fides in dié verband kon oortuig en daarom vra Japie Gouws, die ATKV se besturende direkteur, dat Afrikaanse studente steeds soontoe gestuur word.

Dit maak sin om bestaande ruimtes vir Afrikaans steeds daar te bevorder en dit kan deel van die strategie vorentoe wees. Maar die manier waarop universiteitsleiers die afgelope twee jaar rondgeval en van standpunt verander het, het ’n vertrouensbreuk met die Afrikaanse gemeenskap geskep. Private geld moet voortaan eerder voorwaardelik en vir spesifieke beurse of projekte beskikbaar gestel word en onafhanklike trusts kan só ’n voertuig vir bydraers skep. Heelwat van die geld gaan ook nodig wees vir private inisiatiewe soos Solidariteit se Akademia of ander private inisiatiewe wat kan ontstaan.

Uiteraard moet sulke bydraes soos altyd ook tot voordeel van die totale studentegemeenskap wees, maar nie as blanko tjek nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.