Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: Kgetlengrivier se inwoners stel ’n voorbeeld vir SA
Joseph Mogale (links), munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit, redekawel op 7 Januarie met Johannes Seolwane, die plaaslike balju, oor inwoners se oorname van Koster se waterwerke. Foto: Deaan Vivier

Inwoners van die Borolelo-township naby Swartruggens in Noordwes het vandeesweek vir die eerste keer in twee maande lopende water gehad. En dis nie danksy die ANC wat aan die bewind is in die Kgetlengrivier-munisipaliteit, wat dié basiese diens aan inwoners moet lewer, nie.

Die herstel van dienste in die gebied is weens die deursettingsvermoë van gewone belastingbetalers wat besluit het tot hier toe en nie verder nie.

In Carel van Heerden, voorsitter van die Kge­tlengrivier-belastingbetalersvereniging, se terugvoering oor die herstel van dienste in Koster, wat ook in dié munisipale gebied val, val veral een sin op: “Alles lyk nou baie netjieser, ons het sommer ook die gras gesny.”

Dit is die somtotaal van al die klein dingetjies wat die verskil maak. Dis eintlik nie so ingewikkeld nie. Dit kom neer op basiese instandhouding.

Van Heerden en sy span stel die voorbeeld waarop die hele land gewag het. Hulle begin by die begin. Hulle sny die gras.

As daar een slaggat is, herstel dit. As ’n pyp verstop, maak dit reg. As ’n pomp breek, vervang dit.

Dis blote roetinewerk wat verrig moet word. Maar die oomblik wanneer jy dit versaak, tree algehele verval in.

En dis die situasie waarin die meeste plattelandse dorpe – en toenemend ook groot stede – se inwoners hulle deesdae bevind. Oor naweke (wanneer daar oortyd betaal word?) word daar soms slaggate herstel of gras langs die pad gesny. En natuurlik word daar voor munisipale verkiesings skielik gewoeker met “dienslewering”.

Maar al hoe meer inwoners rol deesdae self die moue op om hul dorpe nie net skoon te hou nie, maar selfs te verfraai. Dit word gedoen uit selftrots sonder dat daar iewers politieke punte te wen is. Dit word uit eie sak of deur goedgesinde borge in die private sektor gefinansier.

In die geval van die Kgetlengrivier-munisipaliteit is daar nou ’n presedent geskep oor die aanwending van belastinggeld.

En Van Heerden en sy span stel die voorbeeld waarop die hele land gewag het. Hulle begin by die begin. Hulle sny die gras.

Wat ’n mens natuurlik laat wonder oor die komende munisipale verkiesing. As belastingbetalers sélf besluit hoe hul geld aangewend word – om dienste te lewer – wat is hoegenaamd nog die nut van politieke partye op daardie regeringsvlak?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.