SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: kykNET se 20 j verdien klop op skouer.

Die Afrikaanse TV-kanaal kykNET se 20ste verjaardag verdien bepaald ’n klop op die skouer. Enersyds as gelukwensing vir die mylpaal, maar andersyds ook vir wat alles oor die twee dekades bereik is.

By die viering is heelwat lof toegeswaai aan diegene wat die visie gehad het om so ’n Afrikaanse kanaal te begin. Maar meer nog is lof ook nodig vir diegene wat deur die jare deurgedruk het om so ’n projek suksesvol en standhoudend te maak.

Die altyd kleinerige maar hardwerkende en uiters kreatiewe­ bestuurs- en personeelkorps van die kanaal staan nie vir veel terug nie. Hulle moes ook deur moeilike uitdagings, soos begrotingsbesnoeiings, die uitdagende ekonomie en mededinging werk. Maar kon nog altyd vorentoe beur op ’n manier wat elke nuwe situasie in ’n verdere geleentheid omskep.

In ’n tyd waar sommige die handdoek wil ingooi oor die toekoms van die taal gee sy en haar span juis nuwe hoop vir Afrikaans.

Uiteraard is dit die somtotaal van die werk van baie mense wat gekom en gegaan het. Tog is dit gepas om Karen Meiring, huidige direkteur van kyk­NET-kanale, te vermeld. Indien ’n stelling – in ’n onderhoud enkele jare gelede – deur die sanger Jannie Moolman dat sy “die belangrikste vrou in Afrikaans is” moontlik oordrewe is, is sy beslis een van die heel belangrikste.

In ’n tyd waar sommige die handdoek wil ingooi oor die toekoms van die taal gee sy en haar span juis nuwe hoop vir Afrikaans. Hulle kry dit veral reg deur die naatlose diversiteit van die taal in hul toepassing van programme te vier.

Alle kykers sal nooit altyd gelukkig wees nie, maar van die begin af het kykNET, ook nou met sy bykomende kanale, nooit probeer om noodwendig die enigste uitsaaituiste van kykers te wees nie. Daar is eerder probeer om ’n verskeidenheid wat wissel van klassieke musiek, drama, sepies, nuus, aktualiteit, joernaalprogramme en vele meer te bied en kykers kon volgens voorkeur inskakel.

Uiteraard verdien getroue kykers ook ’n dankie, want dit is uiteindelik hulle wat groei bepaal.

Die kanaal se betrokkenheid by kunstefeeste, toekennings en ’n verskeidenheid van aktiwiteite buite sy uitsaai-ateljees het verder bygedra om loopbaangeleenthede in Afrikaans te skep en om kreatiwiteit in die taal en die uitsaaiwese uit te bou.

Beeld en sy lesers klink graag ’n glasie.

Meer oor:  Kyknet  |  Televisiereekse  |  Afrikaans. Televisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.