
Oudpres. FW de Klerk Foto: Deaan Vivier
Netwerk24
Die ontleding van die geskiedenis en die onlangse verlede bly belangrik om juis die lesse daaruit te leer wat nodig is om ’n sinvolle toekoms te bou. Maar die omvang van die land se huidige krisisse verg soveel aandag dat ’n sinnelose vasval in erg verdelende twiste van die verlede nie die vind van oplossings gaan verhaas nie.
Daarom het oudpres. FW de Klerk en sy stigting se vasvallery in tegniese definisies oor hoe erg apartheid was in vergelyking met ander misdade teen die mensdom of nie geen guns aan homself, sy nalatenskap, versoening of die fokus van die nasionale diskoers bewys nie. Die kwessie of apartheid inderdaad ’n misdaad teen die mensdom was of nie, was nie proaktief deel van De Klerk se andersins heel suksesvolle herdenking van sy 2 Februarie 1990-toespraak nie. Maar sy opmerkings daaroor was in antwoord op vrae in ’n onderhoud.
Daardeur het hy vir sommige inderdaad ’n pynlike debat heropen en aan opportuniste soos die EFF ’n geskenk op ’n skinkbord gegee.
Maar dit moenie verwar word met ’n terughunkering na apartheid of dat dit enige boosheid van die apartheidstelsel neutraliseer nie.
Hul optrede is in ooreenstemming met die vergange Jacob Zuma/Gupta-benadering om met behulp van Bell Pottinger die skuld vir alles wat nou skeefloop, op apartheid en wit mense te pak. Dit is ver van die waarheid.
Maar vir eens sal welmenende en opregte swart en bruin Suid-Afrikaners se woord aanvaar moet word dat hulle apartheid erg onderdrukkend en vernederend ervaar het en as ’n misdaad teen hul basiese menswaardigheid. Om dit te betwis met tegniese gegewens oor wat so ’n misdaad behels, byvoorbeeld deur koppetellings van watter diktatuur hoeveel mense vermoor het en wie nie op die lys is nie, is erg kwetsend en versterk geensins minderheidsgroepe se invloed op die oplossing van huidige probleme nie.
Dit is so dat heelwat swart en bruin mense – ook invloedrykes – openlik verklaar dat aspekte van dienslewering nou swakker is as voor 1994. Maar dit moenie verwar word met ’n terughunkering na apartheid of dat dit enige boosheid van die apartheidstelsel neutraliseer nie.
De Klerk en sy stigting se ommeswaai oor die kwessie is te verwelkom, al sal dit nie noodwendig dadelik die effek van sy opmerking omkeer nie.