Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld sê: ‘Sakebulle’ welkom in Blou Bul-kraal
Carl Els gaan oor om die wendrie vir die Blou Bulle se o.21-span teen die Westelike Provinsie te druk. Foto: Gallo Images

Die ooreenkoms waardeur die Blou Bulle Rugbyunie voortaan net 26% van die Blou Bulle Maatskappy besit, lui ’n nuwe era vir die Bulle in en plaas die unie op die voorpunt van moderne praktyk in sport.

Die meerderheidsaandeel van 74% word nou besit deur Johann Rupert se Remgro en Patrice Motsepe­ se African Rainbow Capital, met 37% elk. Motsepe het op ’n kritieke oomblik toegetree, toe die unie ’n laaste groot inspuiting gekort het om ’n standhoudende vooruitsig te hê.

Vir die Blou Bul-opperhoofde om die meerderheidsbelang af te staan, en daarmee ook beheer oor minstens sommige kernkwessies, was sekerlik nie ’n maklike besluit nie.

Soos menige sport­instelling verteenwoordig die Blou Bulle ’n tradisie- en roemryke geskiedenis in noordelike, nasionale en internasionale rugby. Maar Suid-Afrikaan­se sport en ook rugby het ’n agterstand ontwikkel teenoor menige buitelandse sportkodes wat sakemodelle betref.

Sukses kweek sukses en dit dra daartoe by dat paviljoene weer voller is.

Europese en Britse rugbyklubs presteer op die veld en loop voor met kontrakte vir goeiegehaltespelers en afrigtingsmetodes omdat hulle die finansiële rugsteun van groot beleggers het. Sukses kweek sukses en dit dra daartoe by dat paviljoene weer voller is en ’n standhoudende ondersteunerskorps opgebou word.

Motsepe is ook die eienaar van Mamelodi Sundowns, wat al ’n ooreenkoms oor die gebruik van Loftus Versfeld het. Dit los ook die probleem op van groot stadions met peperduur instandhouding.

Die Blou Bulle-span het reeds verlede jaar as ’n gebaar van die “saamsnoer van mense” met geel truie in wegwedstryde gespeel – hul sogenaamde “Sundowns”-wegtruie. Die sokkerspan het gereageer deur hul derde uitrusting vir die seisoen ligblou te maak.

Dié soort simboliek en uitreiking is van kritieke belang in ’n land waar uiteenlopende belangegroepe saam ’n toekoms moet bou. Dit is ook betekenisvol dat Motsepe sy hand op papier sit vir ’n belegging in rugby, juis in die jaar waarin ’n diverse Springbok-span die hoogste roem behaal het.

Enige nuwe vennootskap sal ook sy uitdagende tye meebring, maar Willem Strauss, uniepresident, en Alfons Meyer, uitvoerende hoof, het goeie werk vir die toekoms van Blou Bul-rugby gelewer.

Meer oor:  Johann Rupert  |  Rugbyspan  |  Eienaarskap  |  Hoofartikel  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.