Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Al paadjie nou vir Ace Magashule is reguit hof toe
Ace Magashule Foto: Daily Sun

Dit het gans te lank geneem, maar die dekreet van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dat Ace Magashule binne 30 dae as sekretaris-generaal terugstaan of hy sal geskors word, is die begin van sy politieke einde.

Wanneer hy in Augustus in die hof aantree, is dit as net nog ’n beskuldigde weens korrupsie, bedrog en geldwassery. Die skandvlek is dat hy die eerste sekretaris-generaal van die ANC is sedert party-stigting in 1912 wat gevra word om terug te staan.

Vir die radikale-ekonomiese-transformasie (RET)-groepering in die ANC is dié stap – saam met die NUK se veroordeling van aanvalle op die regbank (à la Jacob Zuma) en steun aan die Zondo-kommissie, die parlementêre proses oor adv. Busisiwe­ Mkhwebane, openbare beskermer, en die opstopper aan die Umkhonto we Sizwe- militêre veteranevereniging (MKMVA) – ’n erge tugtiging.

Vir opposisiepartye is pres. Cyril Ramaphosa se stelling in sy toespraak Maandag dat daar net een ANC is, ’n wekroep.

Nie dat Carl Niehaus en kie dit sal snap nie. Verwag wel taamlike randlawaai van RET-kanniedoods en apologete wat put uit die voordele van hul Ace-verkleefdheid, soos in die Vrystaatse ANC, waar Vusi Tshabalala, speaker van die wetgewer, in ’n laaste benoude sprong die verwydering van Magashule aan oudpres. Thabo Mbeki se ontslag van Zuma as adjunkpresident in 2005 wil gelykstel.

Vir die ANC bring die oortydige NUK-ultimatum aan Magashule wat ook ander hoë ANC-ampsdraers geld wat weens beweerde korrupsie vervolg word, en die ander besluite ’n skeiding mee.

Dit laat geen twyfel oor wie in die saal is nie. Interne “hervorming” of nie, die ANC dra swaar aan die las dat staatskaping in sy wagbeurt “verwek” is en dat van sy topleiers ten koste van doeltreffende staatsbestuur argitekte daarvan was.

In ’n volgende stap ter verstewiging van dienslewering in ’n land met defekte staatsdepartemente, provinsies vol slaggate en munisipaliteite oorstroom deur rioolvuil, sou die oorhandiging van poste op kabinetsvlak en laer aan bekwames met spesialiskennis en die uitrangering van kaders aangewese wees.

Vir opposisiepartye is pres. Cyril Ramaphosa se stelling in sy toespraak Maandag dat daar net een ANC is, ’n wekroep.

Maar laat kiesers later vanjaar by die munisipale stembus self oordeel. Intussen wag op Magashule net een paadjie – en dit is reguit hof toe.

Meer oor:  Nuk  |  Ace Magashule  |  Korrupsie  |  Anc  |  Ultimatum  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.