
Joe Biden, Amerika se aangewese president. Foto: Reuters
Die wêreld se oë gaan Woensdag op Washington wees, met die inhuldiging van Joseph Robinette Biden as 46ste president van die VSA.
Die inhuldiging geskied nie in ideale omstandighede nie. Dit gebeur te midde van ’n wêreldwye pandemie, in die afwesigheid van die 45ste president, Donald J. Trump, en onder uiterste streng veiligheidsmaatreëls.
Biden betree die Withuis in die tweede jaar van ’n wêreldwye pandemie. Sedert die uitbreek van die virussiekte is meer as 24 miljoen Amerikaners geïnfekteer en 405 000 het gesterf. Covid-19 het die VSA, soos die res van die wêreld, in moeilike omstandighede gedompel met kwessies soos gesondheidsorg en die ekonomie wat Biden se onmiddellike aandag gaan vereis.
Hy het reeds ’n aanduiding gegee van die ekonomiese hulpverleningspakket wat sy administrasie van plan is om in te stel. Maar Biden gaan in dié opsig nóg ’n uitdaging hê, naamlik miljoene Amerikaners wat steeds nie die erns van die virus besef nie en ook nie bereid is om entstof daarteen te ontvang nie.
Sy grootste uitdagings gaan wees om Amerikaners onder uiters moeilike omstandighede te verenig en die geloofwaardigheid wat die land internasionaal onder Trump verloor het, te herstel.
Trump se afwesigheid op die plegtigheid stuur ’n duidelike boodskap oor die atmosfeer waarin mag tussen die twee presidente – en van die Republikeine na die Demokrate – verwissel word. En dit speel natuurlik af teen Trump-ondersteuners se vroeëre aanval op Capitol Hill – onder aanmoediging en sonder latere veroordeling van Trump.
Daaruit spruit die streng veiligheidsmaatreëls wat getref word rondom Biden se inhuldiging, ’n geleentheid wat allerweë gesien word as ’n volgende teiken vir Trump-ondersteuners wat steeds vas glo hy is van ’n tweede termyn beroof.
Wat in Biden se guns tel, is dat hy, anders as sy voorganger wat die Withuis sonder enige politieke ervaring betree het, ten minste reeds as visepresident vir Barack Obama ’n voorsmakie gekry het van wat op hom wag. En, anders as Trump, omring Biden hom met ’n sterk span kenners en tegnokrate.
Sy grootste uitdagings gaan wees om Amerikaners onder uiters moeilike omstandighede te verenig en die geloofwaardigheid wat die land internasionaal onder Trump verloor het, te herstel. Die verband tussen dié uitdagings lê in die interne en eksterne persepsies wat daar ná die aanval op Capitol Hill oor die demokrasie in die VSA bestaan.