
Ronald Lamola Foto: Jonathan Burton
Die departement van justisie en korrektiewe dienste se prestasieverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee moet ernstige waarskuwingsligte laat flikker.
Dit is dié departement wat moet verseker die instellings wat meewerk in vervolgings weens korrupsie en staatskaping is kerngesond. Dit blyk egter die departement self staan op die rand van algehele ineenstorting.
Laat dit eerstens gesê word dat uitgeholde kapasiteit en gebrekkige prestasie in die staatsdiens allermins beperk is tot justisie en korrektiewe dienste. Oor jare heen is “Batho Pele” (die mense eerste) – die rigtende beginsel in die staatsdiens – vervang met “selfverryking eerste”.
Die benarde stand van sake by justisie is besonder teleurstellend omdat minister Ronald Lamola vanuit pres. Cyril Ramaphosa se dampkring voorgehou is as ’n energieke jong minister wat vinnig herbouwerk sal kan doen ná die sloopwerk van die Zuma-era.
Sy departement is verantwoordelik vir die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, die nasionale vervolgingsgesag, die spesiale ondersoekeenheid, die regbank, die howe, tronke en die kantoor van die meester van die hooggeregshof.
Jacob Zuma het baie van hierdie instellings doelbewus gerysmier om homself en sy kornuite teen strafregtelike vervolging te verskans.
Jacob Zuma het baie van hierdie instellings doelbewus gerysmier om homself en sy kornuite teen strafregtelike vervolging te verskans. Die skade was weliswaar groot, maar die portefeuljekomitee het die legitieme verwagting gehad dat daar vinniger vordering getoon sou word.
Lamola was self afwesig weens siekte, maar dit is dan van kritieke belang dat hy spoedig self sê wat die stand van sake is en wat sy regrukplan behels.
Daar is reeds druk vanuit die komitee dat sy departement onder administrasie geplaas moet word om dit van ondergang te red.
Dís die laaste ding wat Lamola en die Ramaphosa-regering kan bekostig, want só ’n administrasieproses sal net ’n politieke speelbal van ANC-faksies word om die Zuptaïete teen verantwoording en vervolging te beskerm.
Ramaphosa moet vinniger werk om prestasieooreenkomste met ministers te sluit en openbaar te maak. As dit al in Februarie gegeld het soos wat Ramaphosa oorspronklik belowe het, was daar nou duidelike meetsnoere om Lamola se gebrekkige vordering aan te pak.