Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Dis krokodiltrane, Cele
Bheki Cele Foto: Son

Die krokodiltrane wat Bheki Cele, minister van polisie, huil oor die ineenstorting van die polisie se forensiese afdeling is nié goed genoeg nie.

In Dinsdag se debat in die Nasionale Vergadering oor die DNS-krisis het Cele gesê die enorme agterstand met DNS-toetse hou hom uit die slaap en is vir hom net so ’n groot nagmerrie as vir misdaadslagoffers wat daarop staatmaak vir geregtigheid om te geskied en vir afsluiting. Dít terwyl DNS-toetsing – een van die heel belangrikste wapens in die misdaadstryd – onder sy waak in duie stort.

Dit is nie asof Cele en genl. Khehla Sitole, polisiehoof, nie geweet het hier kom ’n krisis of nie tyd gehad het om die oorsake daarvan te ondervang nie. Die gevaarligte flikker reeds van 2019 af erg én hulle is by herhaling gewaarsku.

Weens hul gesloer en versuim om op te tree, het onafgehandelde DNS-toetse van sowat 100 000 sake sedert 2019 verdubbel en het die agterstand in toetse vroeër vandeesweek reeds op 208 291 sake gestaan. Dit vererger daagliks.

Cele, Sitole en die regering versaak daarmee die slagoffers van geslagsgeweld en kinderslagoffers – oor wie se beveiliging hulle hoog opgee – asook elke ander moord- en aanrandingslagoffer én hulle speel in die kaarte van misdadigers.

Moordenaars, verkragters en ander geweldenaars wat agter tralies moes gewees het, loop as gevolg van die agterstand vry rond in gemeenskappe.

Moordenaars, verkragters en ander geweldenaars wat agter tralies moes gewees het, loop as gevolg van die agterstand vry rond in gemeenskappe. Slagoffers, hul families en die res van die gemeenskap leef op hul beurt in spreekwoordelike tronke van vrees en verslaentheid.

Polisiebeamptes en die howe – reeds onder enorme druk – word verder aan bande gelê. Speurders wat nie ondersoeke kan afhandel nie, moet slagoffers en die familie van slagoffers in die oë kyk. Sake word van die hofrol geskrap weens bewyse wat ontbreek. Die toekomstige druk wat die agterstand op reeds oorvol hofrolle gaan plaas, voorspel ook niks goeds nie. Voorts ontstaan die gevaar dat sommige misdadigers nooit sal boet nie.

Slagoffers kan nie langer hoor hoe jammer Cele is en hoe hard hy en Sitole werk om oplossings te vind nie.

Dit is tyd dat Cele, Sitole en die regering uitdruklik sê hoe hulle die krisis met die opgeskorte elektroniese bewysstuknasporingstelsel, vakatures in die forensiese afdeling, wanbestuur, verkrygingsprobleme, gebrekkige instandhouding van toerusting en die tekort aan toetsstelle en -middels gaan oplos. En dan moet dit gebeur.

Kan of wil Cele en Sitole nie hul uitgerekte twis bylê en hierdie krisis oplos nie, is dit tyd vir ’n ander polisieminister en polisiehoof – ter wille van behoorlike regspleging en die derduisende misdaadslagoffers wat met dié krisis in die steek gelaat word.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Sapd  |  Polisiediens  |  Hoofartikel  |  Dns-Krisis  |  Polisie  |  Dns  |  Krokodiltrane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.