Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Die eintlike koste van plundertogte
Foto ter illustrasie

Suid-Afrika is nog druk besig om somme te maak oor die regstreekse impak van verlede week se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng. Hoewel die syfers nog lank nie finaal is nie en baie skade nie eens gekwantifiseer sal word nie, word dit in dié stadium op tussen R30 miljard en R100 miljard geraam. Daar word geskat minstens 50 000 werkgeleenthede sal verlore gaan en ekonomiese groei sal met minstens vier basispunte verminder – alles oor sowat ses dae se plundering.

Maar potensieel een van die grootste skokke was Toyota in Japan se aankondiging dat hy dit oorweeg om hom aan Suid-Afrika te onttrek.

’n Maatskappy wat al 60 jaar lank hier sake doen, een wat dus Republiekwording, apartheid, die onluste van die 1980’s, demokratisering en die geweld wat dit voorafgegaan het, die opstande ná die moord op Chris Hani en die ekonomiese nawerking van die Covid-19-pandemie deurleef het, het gevoel dié plundering was die laaste strooi.

Net die idee dat ’n multinasionale reus sy deure hier wou sluit, behoort pres. Cyril Ramaphosa slapelose nagte te gee.

Toyota Suid-Afrika het binne dae gepaai die motorvervaardiger, wat 8 500 werknemers het, bly tot die land verbind. Maar net die idee dat ’n multinasionale reus sy deure hier wou sluit, behoort pres. Cyril Ramaphosa slapelose nagte te gee.

In 2019 het netto regstreekse buitelandse investering in Suid-Afrika volgens die Reserwebank se syfers R74 miljard beloop. In 2020, grootliks weens die pandemie en die staat se beroerde geldsake, was dit R51,1 miljard – ’n skerp daling van 31%.

Regstreekse buitelandse investering in dié konteks is nie net die beleggings van multinasionale maatskappye nie, maar ook van buitelandse beleggers in Suid-Afrikaanse aandele en effekte.

Die afgelope week se onluste gaan sowel multinasionale as plaaslike maatskappye se aptyt vir investering ernstig knou. Dit gaan ekonomiese groei en werkskepping dalk nog jare lank verlangsaam.

Dis goeie nuus dat die nasionale regering die krisis met Toyota beredder het. Dit lyk dus asof Ramaphosa besef hy moet vure van dié aard vinnig doodslaan. Nou moet daar egter met dieselfde dringendheid aandag gegee word aan onderwys en vaardigheidsopleiding sodat werkloosheid, armoede en ongelykheid werklik verminder kan word. Anders is die volgende plundertog net nóg ’n vonk in ’n kruitvat ver. En die volgende keer sal ’n vinnige gepaai dalk nie genoeg wees nie.

Meer oor:  Oproer  |  Ekonomie  |  Onluste  |  Plundering  |  Hoofartikel  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.