Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Die Zuma-familie en die dodelike gif van populisme
'n Buitelander verlaat Dinsdag sy winkel in Atteridgeville met dit wat oorgebly het nadat plunderaars toegeslaan het. Foto: Samson Ratswana

Die uitlatings vanuit die Zuma-kamp en -familie ter aanhitsing van openbare geweld skreeu ten hemele.

Eers was daar Edward Zuma, die selfaangestelde hekwag by Nkandla, wat ons via die SAUK laat weet het: “Ek gaan geen wetstoepasser toelaat om my pa in hegtenis te neem of om president Zuma nog verder te teister nie. Ek is bereid om my lewe op te offer. As hulle vandag wil kom, sal hulle my by die hek vind met my knopkierie.”

Hy het beweer regters is omgekoop; ministers is omgekoop. Bewerings – talle; bewyse – nul. Intussen sterf mense en gemeenskappe se voedselvoorraad is onder druk.

Duduzane Zuma, nóg ’n seun van die voormalige Nommer Een, het ook nie op hom laat wag nie.

Laasgenoemde, wat ’n aktiewe veldtog op sosiale media bedryf om president te word, het die stropers en plunderaars vriendelik versoek om darem “verantwoordelik te plunder”.

Daar is uiteraard nie so iets soos “verantwoordelike plundery” nie en die blote feit dat jy in staat is om dié twee woorde naas mekaar te uiter lê ’n diep onverskilligheid bloot teenoor die mense van Suid-Afrika.

Daar is uiteraard nie so iets soos “verantwoordelike plundery” nie en die blote feit dat jy in staat is om dié twee woorde naas mekaar te uiter lê ’n diep onverskilligheid bloot teenoor die mense van Suid-Afrika.

Almal kry reeds swaar.

Groot ondernemings sukkel om hul werknemers in diens te hou. Huishoudings trek die gordel al hoe stywer in om die pot aan die kook te hou. En hoe moet die armstes, die werkloses, dié dae dan deursien?

Maar desnieteenstaande – ter wille van eiebelang en die beskerming van staatskapers – is die Zuma-kamp bereid om die land (soos hulle al voorheen gedreig het) aan die brand te steek.

Giftige populisme op sy ergste.

In starre teenstelling hiermee is daar weliswaar iets nuuts besig om ’n faktor op die politieke toneel te word. Noem dit dalk net vir nou, by gebrek aan ’n ander term, helende populisme.

Ter sprake is die goeie bedoelings, deursettingsvermoë, ’n wil om te oorleef en die ideaal van ’n beter môre van gewone mense wat eenvoudig voet dwars sit teen die geweld omdat hulle weet daar word nou met die ganse land se toekoms gedobbel. Dis mense wat op vreedsame wyse laer trek teen die plunderaars en self help herbou.

Mag dié gees die botoon voer.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Plunder  |  Populisme  |  Hoofartikel  |  Plundertogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.