Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Wat van die chaos in staatsmasjinerie?
cyril ramaphosa
Pres. Ramaphosa besoek Vrydag een van die winkelsentrums wat in Durban, KwaZulu-Natal, onder plunderaars deurgeloop het. Foto: Reuters

Die salf wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag gesmeer het in sy gesprek met sakeleiers oor die herstel en opbou in die land ná die onrus, gaan slegs tydelike verligting bring as die kanker in die ANC, regering en veiligheidsagentskappe nie eens en vir altyd uitgeroei word nie.

Dit is futiel om die landwye ekonomiese skade van die onluste en die veiligheidsbedreiging vir burgers te erken en heropbou en stabiliteit te predik terwyl chaos in die staatsmasjinerie voortwoed.

Staatsagentskappe het mekaar nou aan die keel beet oor wie nou eintlik watter inligting vooraf sou hê (of nie) oor die anargie. Tussen die presidensie en kabinetslede is daar ’n bontpratery oor of die geweld ’n gekoördineerde en goed beplande aanval op ons demokrasie was of nie. Dié situasie is allermins bevorderlik vir die vertroue in die ANC en die regering – nie onder gewone Suid-Afrikaners of broodnodige beleggers nie.

Die onvermoë van die staat se intelligensie- en veiligheidsagentskappe om die vernietiging en lewensverlies in KwaZulu-Natal en Gauteng tydig en doeltreffend af te weer of hok te slaan en die daaropvolgende dubbelpratery belig die erge leierskapsgebreke en ernstige probleme in die hoër echelons van die regering en sy veiligheidstrukture.

Suid-Afrikaners, sakelui en beleggers het rede om skepties te wees en steeds onveilig te voel, selfs al meen die polisie die situasie is nou in bedwang.

Ramaphosa en die ministers en amptenare wat saam met hom uit een mond praat, sê die onrus was ’n doelbewuste aanslag om die ekonomie te verlam, maatskaplike onstabiliteit aan te vuur en die staat te verswak of selfs te laat ineenstort. ’n Mislukte staatsgreep dus, maar slegs ’n handjievol aanhitsers en ’n honderdtal plunderaars is nog aangekeer.

As dit nie aanduidend is van die krisis in die staat se veiligheidsmasjinerie nie, wat is? Suid-Afrikaners, sakelui en beleggers het rede om skepties te wees en steeds onveilig te voel, selfs al meen die polisie die situasie is nou in bedwang.

Burgers en hul eiendom kan net behoorlik beskerm word indien intelligensie-agentskappe behoorlik funksioneer en die polisiediens en weermag doeltreffend is. Dit is ’n basiese verantwoordelikheid van die staat en ’n bousteen vir ’n gesonde demokrasie en ekonomie.

As Ramaphosa die land wil herstel en opbou soos hy sê, is die beveiliging van mense en eiendom deur die staat die vertrekpunt – iets wat lank reeds deur politiekery en onbevoegdheid verlam word.

Ramaphosa gaan taai besluite moet neem en deurvoer.

Word die kabinet, beleërde polisie en weermag en die twyfelagtige Staatsveiligheidsagentskap (SVA) nie gesuiwer en reggeruk nie, is herstel en volhoubare ekonomiese vooruitgang wensdenkery en gaan Suid-Afrika ’n kruitvat bly.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Staatsveiligheid  |  Plundering  |  Hoofartikel  |  Oproer  |  Ekonomie  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.