Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Hlaudi hoes nou vir sy arrogansie
Hlaudi Motsoeneng Foto: Felix Dlangamandla

Dit is uitstekende nuus dat Hlaudi Motsoeneng, omstrede voormalige bedryfshoof van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), bykans R1 miljoen moet terugbetaal vir regskoste wat hy in sy persoonlike hoedanigheid aangegaan het.

Die hooggeregshof in Johannesburg het bevind dat Motsoeneng onwettig geld van die SAUK gebruik het om sy eie regskoste te dek. Hy het volgens die hof die prokureurs Majavu Incorporated se dienste gebruik in ’n hofsaak wat sy aanstelling as bedryfshoof van die SAUK betwis het.

Dit is bepaald ’n oorwinning vir die spesiale ondersoekeenheid (SOE), al is dit ’n druppel aan die emmer vergeleke met hoeveel geld oor dekades deur die SAUK weggesmyt is.

Die feit dat Motsoeneng persoonlik verantwoordelik gehou word, is nietemin verblydend – veral gegewe hoe sy magsug en arrogansie die openbare uitsaaier verder in die moeras laat wegsink het.

Julle kan nie besluit oor Hlaudi Motsoeneng se toekoms nie – Hlaudi sal oor sy eie toekoms besluit.
Hlaudi Motsoeneng

Nadat die hooggeregshof én die appèlhof bevind het sy aanstelling as bedryfshoof van die SAUK is irrasioneel en onwettig, het hy in 2016 stellig verklaar: “Julle kan nie besluit oor Hlaudi Motsoeneng se toekoms nie – Hlaudi sal oor sy eie toekoms besluit.”

Die keuse van die arrogante Motsoeneng as apparatsjik en spreekbuis vir oudpres. Jacob Zuma illustreer op sigself laasgenoemde se powere oordeel. Uiteindelik was Motsoeneng meer van ’n spreekbuis vir homself as vir Zuma.

Die projek om die SAUK die ANC se spreekbuis te maak het al op groot skaal begin skeefloop toe faksies in die regerende party vermenigvuldig het en dié binnegevegte ook na die SAUK oorgespoel het. Wat die vraag gebring het wie se spreekbuis ’n aspirerende apparatsjik nou eintlik moet wees.

Dit was toe dat Zuma vir Motsoeneng ingebring het voor die ANC se nasionale konferensie in Mangaung – juis met die taak om die uitsaaier tot voordeel van die Zuma-kliek in te span.

En namate die vastrapplek van die Zuma-kliek uitgekalwe het en die kleed van beskerming wat om Hlaudi gehang is uitgerafel het, het ons eenoog-koning maar net die voorbeeld van sy een politieke meester gevolg: Klou vir al wat jy werd is, tot die heel laaste. En nou betaal ook hy in rand en sent.

Meer oor:  Hlaudi Motsoeneng  |  Hoofartikel  |  Miljoen  |  Arrogansie  |  Terugbetaling  |  Sauk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.