Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Oplossing so ver weg
Die gevolg van wat volgens die owerhede in Israel ’n Palestynse vuurpylaanval op die stad Ashkelon was. Foto: Reuters

Daar is tans geen ander konflik ter wêreld waar ’n oplossing so ver weg lyk as dié tussen Israel en die Palestyne nie.

Dit gaan hier om twee bevolkingsgroepe, elk met sy eie historiese trauma wat op dieselfde grondgebied aanspraak maak en wat albei geldige historiese argumente daarvoor kan aanvoer.

Soos dit maar dikwels met sulke konflikte gaan, lyk dit bitter moeilik – indien nie onmoontlik nie – om genuanseerd te bly. Dis meestal ekstremistiese groepe wat die gang van sake bepaal.

Aan Israeliese kant het jy Benjamin Netanyahu, sy uiters nasionalistiese premier, wat liefs alle Palestyne tot ver buite sy grense wil verdryf en sowel die Wesoewer as die Gasastrook wil annekseer. Andersyds het jy by die Palestyne twee fundamentalistiese Moslembewegings, Hamas en die selfs meer ekstremistiese Islamitiese Djihad, wat alle Jode in die see sou wou jaag. En tog sal die groepe ’n modus vivendi moet vind.

Om vriendskap te verwag sou naïef wees; op die allermeeste kan daar op ’n soort samewerkende vyandigheid sonder geweld gehóóp word.

Om vriendskap te verwag sou naïef wees; op die allermeeste kan daar op ’n soort samewerkende vyandigheid sonder geweld gehóóp word.

Soos sake nou staan, is selfs dié minimum hoop onrealisties. Dalk, dálk kan Israel en die Palestyne egter in dié rigting groei, maar dan sal albei tot kompromis en toegewings bereid moet wees.

Israel sal moet afsien van sy beleid waarvolgens steeds meer Joodse nedersettings op die Wesoewer gevestig en die lewensruimte vir die Palestyne steeds verder verklein word. Dit is ’n vorm van sluipende anneksasie. Terselfdertyd sal Palestyne in sowel die Wesoewer as die Gasastrook Israel se bestaansreg moet erken. Israel is ekonomies en militêr eenvoudig te sterk om weggedínk te word.

Pres. Joe Biden van Amerika is onder toenemende druk van sy Demokratiese Party se progressiewe faksie oor sy standpunt dat Israel sy reg uitoefen om hom teen aanvalle te verdedig.

Hy is reg, want die voortdurende histerie – ook van die Suid-Afrikaanse regering – dat die enigste oorsaak van die konflik is dat dit Israel is wat voortdurend oortree, is gewoon onwaar. Optrede soos die bombardement van ’n gebou wat mediahuise huisves deur Israel, gaan egter nie sy saak sterk nie. Tensy hy nie bewyse kan voorlê dat daar wel terreurintelligensie gehuisves is nie, moet dit veroordeel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.