Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Mabuza-beroep om nie oral ras in te sleep is welkom
Adj.pres. David Mabuza Foto: City Press

Adj.pres. David Mabuza se opmerking in die Nasionale Raad van Provinsies Dinsdag dat opgehou moet word om ras by alle probleme in Suid-Afrika te wil insleep, is tydig en welkom.

Hy het op ’n vraag van die EFF oor waarom net swart bestuurders by Eskom geskors word, gesê hulle is geskors omdat hulle iets verkeerd gedoen het en nie oor hul velkleur nie.

Hy het ook die Grondwet aangehaal oor ’n nie-rassige Suid-Afrika wat gebou moet word en bygevoeg: “Suid-Afrika is een land en een nasie en daar moet toegesien word dat die land openlik vir die eenheid van alle burgers werk.”

Indien sy opmerkings ’n klemverskuiwing van die regering verteenwoordig, sal dit wye steun ondervind. Die ideale wat hy uitstippel wat met woord en daad deur oudpres. Nelson Mandela uitgeleef is, het sedertdien erg skade gely. Uiteenlopende faktore, groepe en individue is mede-verantwoordelik.

Ras is blatant as verdelingslyn uitgebuit en as rookskerm vir staatskaping gebruik.

Ook die ANC-regering het van sy grondwetlike verpligtinge in dié verband afgewyk, veral in die Jacob Zuma-jare. Ras is blatant as verdelingslyn uitgebuit en as rookskerm vir staatskaping gebruik. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is ingevolge die meerderheidsmandaat by die stembus geldende beleid, maar die swak en opportunistiese toepassing daarvan lei ook tot rassespanning.

’n Voorbeeld is om net vir swart eienaars in die toerismesektor te wil Covid-19-hulp gee.

Die klimaat wat die ANC help skep het, is een waarin die EFF suurstof kry en kan aanvoer dat die skorsing van swart bestuurders noodwendig op rassisme dui.

Mabuza se opmerkings kom ook in dieselfde week waarin wit en swart ouers van die Hoër Tegniese Skool Witbank in Emalahleni mekaar in ’n massa-straatgeveg getakel het. Die terugval na rasgedefinieerde laers, as daar probleme is, bly nog ’n werklikheid in die land.

Almal in Suid-Afrika sal moet meewerk om probleme sonder rasverwysings te probeer besleg en groter harmonie en eenheid te bewerkstellig. Rassiste en haatstokers, wit en swart, moet hard vasgevat word. Tog sal beduidende en rigtinggewende optrede deur die regering die grootste impak hê.

Meer oor:  David Mabuza  |  Hoofartikel  |  Probleme  |  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.