Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Onstabiliteit in Mosambiek tas hele streek aan
palma, oorlewendes
'n Vrou word deur 'n vriendin vertroos nadat sy per skip uit Palma in die noorde van Mosambiek in die hawestad Pemba aangekom het. Foto: Reuters

Die Suid-Afrikaanse regering behoort diep bekommerd te wees oor die groeiende Islamitiese ekstremisme en gewelddadige konflik wat Mosambiek se noordelike Cabo Delgado-provinsie met tragiese gevolge vir die land én streek teister.

’n Stabiele Mosambiek sou ’n belangrike sleutel in die bou van ’n stabiele Suider-Afrikaanse maatskaplik-ekonomiese gemeenskap wees.

Allereers noodsaak humanitêre redes oplossings sodat die land, wat ná onafhanklikwording in 1975 deur burgeroorlog geteister is, nie finaal ontspoor nie.

Die bedreiging van internasionale belange, waaronder beleggings van $60 miljard in die gasbedryf, bring die ekonomiese ontwikkeling van dié noordoostelike buurstaat ook in die gedrang. As beplande sentrum vir die vervaardiging van natuurlike vloeibare gas moes die kusdorp Palma instrumenteel wees in die ontwikkeling vir Mosambiek, ’n land wat na aan die onderkant van die Verenigde Nasies se ontwikkelingsindeks is.

In die aangesig van die skrikbewind van Ansar al-Sunna, met sy Isis-bande, lyk eersdaagse normalisering onwaarskynlik.

In die aangesig van die skrikbewind van Ansar al-Soenna, met sy Isis-bande, lyk eersdaagse normalisering onwaarskynlik. Die nuwe vlakke van bloedvergieting in Cabo Delgado is maar een aspek van die verweefde kompleksiteit van die situasie wat oor dekades heen hier ontstaan het. Die Mosambiekse weermag beweer hy het beheer oor Palma herwin, maar die aanspraak word betwis. En in Cabo Delgado buit Ansar al-Soenna swak regeringsbeheer verder uit.

Boonop blyk daar by die Frelimo-regering ’n onontvanklikheid vir eksterne hulp. Die Mosambiekse regering met sy politieke elite in Maputo moet juis pa staan daarvoor dat hy ontwikkeling op die suide toegespits het, terwyl die noorde afgeskeep is.

Weens marginalisering en werkloosheid het Cabo Delgado ’n teelaarde geword vir Islamitiese radikalisering, wat veral by gefrustreerde jeugdiges sterk aanklank vind.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap bied hulp aan, maar Mosambiek verkies om private veiligheidsmaatskappye te gebruik. Indringende internasionale gesprekke is nodig vir die formulering van ’n dringende aksieplan om geweld in die gebied te beëindig en die streek te stabiliseer.

Meer oor:  Palma  |  Terreur In Mosambiek  |  Oorlog  |  Isis  |  Hoofartikel  |  Onstabiliteit  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.