Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Plan vir landelike veiligheid sloer al heeltemal te lank
Bheki Cele Foto: Netwerk24

Die regering se eie misdaadstatistieke staaf die krisis wat met van plaasaanvalle tot veediefstal op die platteland beleef word. Landbou-organisasies wys daarop dat misdaad van stede na die platteland spoel.

’n Werkbare plan vir landelike veiligheid behoort dus vanselfsprekend te wees. Tog dring die noodsaak vir ’n haalbare strategie nie deur nie. En word die kabinet se soveelste onderneming – op sy vergadering einde Oktober – om die instelling van die gewysigde landelike veiligheidsplan te versnel met lou optimisme begroet.

Dit geld ook Bheki Cele, minister van polisie, se voorneme oor ’n komitee vir beter samewerking tussen die vervolgingsgesag, justisie, korrektiewe dienste en buitelandse sake ten opsigte van die toestaan of weiering van borgtog of parool aan beskuldigdes of misdadigers.

Dié belofte van Cele verlede week aan boere op ’n opvolgbesoek aan Senekal ná onlangse gebeure daar is eerder eie aan die regering se krisisbestuur en skadebeheer wanneer gemoedere in bedwang gehou moet word.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het wel in sy onlangse konsepverslag aanbeveel die landelike veiligheidsplan om plaasgemeenskappe te beskerm moet hersien en met alle belanghebbendes in die landbougemeenskap bespreek word.

Terwyl dit sloer, kring die teistering in dorpe en op plase uit. Talle van die booswigte is vrygelatenes op parool of borgtog.

Dit moet net gebéúr. En hoe lank gaan dit neem? Misdaadvoos Suid-Afrikaners op die platteland word al jare lank ’n doeltreffende landelike veiligheidsplan beloof.

Die eerste plan is meer as twee dekades gelede in opdrag van oudpres. Nelson Mandela ingestel, maar nooit deeglik in werking gestel nie. Intussen het ’n jaar verloop sedert Cele die jongste plan bekend gestel het.

Steeds word gewag op die inwerkingstelling daarvan.

Dit sou die beloofde snelreaksiespanne vir vinnige optrede ná voorvalle van geweldsmisdaad en georganiseerde misdaad op die platteland insluit.

Terwyl dit sloer, kring die teistering in dorpe en op plase uit. Talle van die booswigte is vrygelatenes op parool of borgtog. Dít was die geval in die moorde op Brendin Horner van Paul Roux, Pieter en Eddie Hills van Hennenman en Dave Wessels van Viljoenskroon.

Die onlangse betogings by howe – van Senekal én Hennenman tot Worcester, waar Melvinia Adler (30) en haar seun, Jovante (10), wreed met ’n skroewedraaier en hamer in hul huis vermoor is – gee uiting aan Suid-Afrikaners se moedeloosheid, frustrasie en woede.

Dit help nie meer die regering en Cele sê jaar ná jaar hulle is ernstig oor die bekamping van misdaad maar kom nie hul beloftes na nie.

Die werklikhede wys misdadigers kry die oorhand weens die leë beloftes en gesloer. En die lys slagoffers en die skade en verlies groei net aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.