Dit is slegte nuus vir RSG se 1,3 miljoen luisteraars dat die staatsgefinansierde Afrikaanse stasie hom weens SAUK-wanbestuur ook in ’n knyptang bevind en poste in die gedrang is.
Die relevante sakebeginsel is dat enige organisasie slegs lewensvatbaar is indien inkomste uitgawe oorskry. Die SAUK se skuldlas, wat onder heerskappy van Hlaudi Motsoeneng weens kader-aanstellings aangegroei het, het die openbare uitsaaier gedwing tot die artikel 189-proses waar bykans 400 van sy 3 000 werknemers afgelê moet word.
Eie aan ’n wanbestuurde instansie, is die wanbalans tussen personeelkoste en besteding aan die SAUK, as openbare uitsaaier.
Luidens sy jongste jaarverslag beloop salarisse 45% van sy uitgawes teenoor ’n besteding van slegs 28% aan programinhoud. Naas die miljoenrand-pakkette van bestuurlui verdien SAUK-werknemers ’n gemiddelde salarispakket van bykans R800 000 per jaar plus ruim byvoordele. In die mediabedryf kan dit as uiters rojaal beskou word.
Dit bring die SAUK by die kantelpunt waar hy dieselfde taai besluite moet neem as wat private mediamaatskappye vanjaar ter oorlewing gedoen het.
Dit bring die SAUK by die kantelpunt waar hy dieselfde taai besluite moet neem as wat private mediamaatskappye vanjaar ter oorlewing gedoen het. As ’n staatsgefinansierde instelling, is die politiek nie uit die herstrukturering te haal nie. Soos te wagte, dreig vakbonde namens lede die SAUK met die hof. Met Luthuli-huis wat die vakbonde steun, dreig ’n groter botsing as deel van die stryd in die ANC oor ’n kleiner staatsdiens ter wille van besparing en haalbaarheid.
Ingevolge die SAUK se lisensievoorwaardes moet sy uitsaaidienste ’n sekere mandaat nakom. Met sy voorgestelde generiese organogram, sit die SAUK nou druk op RSG en die ander tien niekommersiële radiostasies om dit steeds te vermag.
In die private sektor sou elke onderskeie sake-eenheid sy eie volhoubaarheid moes bestuur het.
Onder sy bestuur woeker RSG reeds met derdestroom-projekte ter aanvulling van staatsinkomste uit ’n nie-bodemlose put. Dié soort strategie gaan nodig wees om onbelemmerd diens te lewer, in soverre dit onder die radiostasie se beheer is.
Soos stasies in ander tale, is die voortbestaan van RSG ’n grondwetlike móét. Die Afrikaanse stasie se nuus- en ander programme en aanbieders is tuis in huise landwyd.