Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: SA sportprestasies is goue rand om donker wolk
Tatjana Schoenmaker lag van oor tot oor nadat sy Donderdag nog ’n blitsige tyd in die halfeindronde van die 200 m-borsslag opgestel het. Foto: Reuters

So erg is die donker wolk vol probleme wat oor Suid-Afrika hang dat sportprestasies dit nie summier soos mis voor die son sal laat verdwyn nie. Boonop volg alle Suid-Afrikaners nie sport nie. Of word daarvan weerhou weens die beperkings van borge en inteken-televisie. Tog het die afgelope week sportprestasies deur Suid-Afrikaners opgelewer wat hopelik ’n (goue) rand om die donker wolk van ons nasionale huishouding bring.

Aan die voorpunt is die swemmer Tatjana Schoenmaker met haar silwer- en goue medaljes in die Olimpiese swembad in Tokio. ’n Mens sou amper kon glo dat Suid-Afrika voorloop in die wedloop om goue medaljes soos daar gereageer is op haar enkele goue. (By die skryf hiervan nog ons land se enigste.) Tog het sy opnuut vir Suid-Afrikaners daaraan herinner dat die hoogste prestasie vir elkeen beskore is wat, op watter terrein ook al, die nodige ywer aan die dag lê. Die positiewe energie en passie wat sy uitstraal, maak haar ’n inspirerende ambassadeur vir haar land.

’n Mens sou amper kon glo dat Suid-Afrika voorloop in die wedloop om goue medaljes soos daar gereageer is op haar enkele goue.

Aan haar sy staan die branderplankryer Bianca Buitendag, wat etlike persoonlike en operasionele terugslae moes oorkom – selfs ’n enkelbesering –voordat sy op die podium vir haar silwermedalje kon klim. Self ’n inspirasie in eie reg.

Die Springbokke het midde-in ongedurigheid en ’n week van omstredenheid die bordjies teen die Britse en Ierse Leeus verhang en die besoekers in die tweede rugbytoets met 27-9 in hul spore gestuit.

Daar is verdeeldheid, ook onder Suid-Afrikaanse ondersteuners, of Rassie Erasmus se “video-aanval” op skeidsregters sy pos as direkteur van afrigting waardig is. Daaroor sal die rugby-owerhede uiteindelik beslis en hy sal die gevolge – indien enige – moet dra. Maar gee hom, sy afrigtingspan en die spelers die lof wat hulle toekom. Hulle moes ná die skoknederlaag in die eerste toets diep delf om die bordjies te verhang. En het weer soos die wêreldkampioen gelyk. Dit midde-in ’n 18 maande lange droogte van toetsrugby, die Covid-19-spook en verskeie ander uitdagings.

Hopelik dra die sportprestasies daartoe by dat Suid-Afrikaners weer moed kry vir vele uitdagings wat op nasionale en selfs persoonlike vlak oorkom moet word.

Meer oor:  Tatjana Schoenmaker  |  Sport  |  Hoofartikel  |  Olimpiese Spele  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.