Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: CR se sterk woorde goed, maar ...
President Cyril Ramaphosa.
President Cyril Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa het die geleentheid van die Vryheidsdag-viering in Botshabelo gebruik om in sterk taal teen korrupsie uit te vaar.

Hy het sover gegaan om te sê mense moet hul stem gebruik om hul weersin te wys in korrupsie, diefstal en die wanbestuur van geld. Dit is welkome taal deur die land se hoogste ampsdraer. En dit is nodig dat Suid-Afrikaners meermale hoor hul land se leiers verkondig dié sentiment.

Dit is ook nie sonder simboliese betekenis dat hy juis met die volle formele fanfare van die rooi tapyt, die presidentswag, soldate, ’n lugmag-verbyvlug en ’n nasionale kanonsaluut in die Vrystaatse agterplaas van Ace Magashule, sy grootste ANC-teenstander, opgetree het nie. Die boodskap aan die beleërde sekretaris-generaal van die organisasie oor wie in beheer is, is duidelik.

Die korruptes teen wie hy optrede by die stembus vra, is juis vir alle praktiese doeleindes uitsluitlik ANC-lede.

Tog sal Ramaphosa pynlik daarvan bewus wees dat die bedenklike situasie waarin korrupsie die staatsmasjinerie en huishoudelike ekonomie gedompel het, ineengestrengel is met die magstryd in die ANC. En dat die korruptes teen wie hy optrede by die stembus vra, juis vir alle praktiese doeleindes uitsluitlik ANC-lede is.

Hy sal ’n groot fout maak as hy moontlik wil voorgee dat die veelbesproke opsystaan-lys van korruptes, wat die ANC tans saamstel, die kwessie voor stemdag gaan oplos. Die lys gaan diegene verteenwoordig wat reeds in die hof is. Dit het min te doen met raadsale vol onbevoegde, korrupte en selfverrykende raadslede oor die land heen. Hulle sal ook op groot skaal van ANC-lyste vir 27 Oktober – stemdag in die komende munisipale verkiesing – verwyder moet word. Hopelik hou kiesers die kandidatelyste van die ANC en ander partye fyn dop en voer inderdaad sy voorstel uit deur nie hul stem op korruptes te vermors nie.

Ramaphosa is as president die een persoon wat by uitstek die meeste kan doen om verdere korrupsie uit te roei. Hy sou op die harde manier geleer het om bloot aan te kondig ’n nuwe baadjie word omgeslaan, is nie genoeg nie. Sy eie partylede het hom afgelag deur links en regs Covid-19-geld te steel. Die afdanking en vervolging van korruptes vorder teen ’n slakkepas en sal met sy hulp moet versnel.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Anc-Lede  |  Hoofartikel  |  Korruptes  |  Verkiesing  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.