Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Vroue word nog steeds vertrap
A young woman with flying hair is tied with a rope

Aan die vooraand van Vrouedag laat val die skokkende dood van die 26-jarige Sichelesile Dube in ’n staatshospitaal klaaglik die kollig op hoe miljoene vroue in die land versaak word deur swak regering en dienslewering.

As ’n vrou en ma het Nqobile Dube haar siek dogter na die hospitaal gebring en haar hoop op die personeel geplaas. Ma en dogter het sowat nege uur gewag sonder om hulp te ontvang. Donkeraand is Nqobile aangesê om huis toe te gaan omdat haar dogter opgeneem sou word. Ná ’n dag se werk as huiswerker is Nqobile terug hospitaal toe. Daar het sy haar kind aangetref, sittend dood in die rolstoel waarin sy haar 20 uur tevore gegroet het.

Die tragiek van Nqobile Dube wat haar kind só verloor het en die onwaardige dood van Sichelesile is die storie van vele vroue wat dag ná dag skandelik deur die regering in die steek gelaat word.

Ja, in die hoogste gestoeltes is die helfte van die kabinet vroue. In die parlement staan die verteenwoordiging van vroue op meer as 40%, wat drasties beter is as die skrale 2,7% van voor 1994.

Vir miljoene is dit van nul en gener waarde. Elke Vrouedag word hulle deur politici vertel hoe belangrik hul beveiliging en bemagtiging is. Uitvoering aan dié ondernemings is wel min.

Sichelesile Dube is aan die vooraand van dié huldiging in die Joseph Helen-hospitaal in Johannesburg dood. ’n Hospitaal genoem na een van die heldinne wat voor geloop het in die 1956-betoging.

Daagliks word ongeveer sewe vroue in die land vermoor. Meer as 50 000 vroue en kinders word jaarliks seksueel aangerand en meer as 40 000 verkrag. Elke dag word sulke slagoffers in die steek gelaat deur ’n ondoeltreffende polisiediens, maatskaplike diens en strafregstelsel.

Vroue word ook volgens Statistieke Suid-Afrika die hardste getref deur die armoedekrisis. Volgens die Verenigde Nasies is dit vroue en kinders wat die swaarste gaan kry wanneer die wêreld van die Covid-19-pandemie gaan probeer herstel.

Maandag, op Vrouedag, word vroue se optog van 1956 na die Uniegebou uit protes teen die destydse paswette herdenk en die vrouehelde van destyds saam met die vroue van vandag gehuldig.

Sichelesile Dube is aan die vooraand van dié huldiging in die Joseph Helen-hospitaal in Johannesburg dood. ’n Hospitaal genoem na een van die heldinne wat voor geloop het in die 1956-betoging.

Vanjaar se tema vir Vrouedag is (weer) die verwerkliking van vroueregte. So lank as wat politici en amptenare grypgierig en laks bly, beteken dit niks.

Dien hulle nie soos hulle móét met die uitvoering van hul beloftes oor beveiliging en bemagtiging nie, word die aspirasies van die vrouehelde van weleer en die regte en waardigheid van vroue soos Nqobile en Sichelesile Dube en miljoene ander net verder vertrap. En bly Vrouedag slegs ’n dag in naam op die kalender.

Meer oor:  Sichelesile Dube  |  Vroueregte  |  Vrouedag  |  Geweld  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.