Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Goeie week vir regsekerheid
Julie 2017: Pres. Jacob Zuma lewer sy slottoespraak op die ANC se verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

In dieselfde week wat die konstitusionele hof oudpres. Jacob Zuma weens minagting van die einste hof met tronkstraf gevonnis het, is adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se onbekookte verslag oor die CR-17-veldtog van pres. Cyril Ramaphosa­ finaal by die venster uitgegooi.

In Donderdag se uitspraak het die hof gesê Mkhwebane het buite haar mandaat opgetree met “bevindings” teen Ramaphosa en dat die wese van haar bevindings verkeerd is.

Dis ’n uitspraak wat reeds ’n bekende refrein onder regters in ander howe geword het. Daarom is dit tydig dat die proses vorder om haar uit haar amp te verwyder.

Ramaphosa sal verlig wees dat hy uiteindelik gelyk gegee word deurdat die hof beslis het hy het nie die parlement doelbewus mislei in ’n antwoord oor sy veldtog om die ANC-leierskap nie. En dat die OB nie by magte was om ondersoek in te stel na die veldtog nie wat buite die staatsarena val.

Openheid oor geld wat aan sulke politieke leiersveldtogte geskenk word, behoort net soos skenkings vir partye self ook gereguleer te word.

Ramaphosa het ook vroeër genoem dat hy die ANC gevra het om reëls op te stel vir die toekomstige aard van sulke veldtogte. Maar dit is nie genoeg nie. Openheid oor geld wat aan sulke politieke leiersveldtogte geskenk word, behoort net soos skenkings vir partye self ook gereguleer te word.

Vir nou gaan die omstredenheid oor CR-17 nie noodwendig soos mis voor die son verdwyn nie, ook in ag genome hoofregter Mogoeng Mogoeng se enkele minderheidsuitspraak daaroor. Diegene wat dit as ’n politieke slaanstok teen hom probeer gebruik, sal waarskynlik steeds voortgaan.

Uiteindelik het albei bogenoemde sake wat voor die hoogste hof beland het, gespruit uit die onverkwiklike binnegeveg in die ANC. In die geveg word nie geskroom om enige moontlike taktiek ook tot ernstige nadeel van die land en sy instellings te gebruik nie. In dié verband is dit ’n belangrike week om groter regsekerheid te skep en die land se demokratiese instellings teen juis die ANC te beskerm wat sogenaamd daarvoor geveg het.

Andersyds is die land se demokratiese instellings in ’n proses wat in Duitsland in ’n grondwetlike konteks “produktiewe spanning” genoem word. Dis die proses waarin die verskillende grondwetlike instellings soms ook interaktief tou trek om inhoud en rigting te gee. In dié opsig was dit ’n goeie week.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Tronkstraf  |  Demokrasie  |  Regskerkerheid  |  Regsuitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.