Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger, Beeld en Volksblad sê: Zondo se besluit oor Zuma van uiterste belang
Zondo
Raymond Zondo

Die land se grondwetlike geskiedenis in wording het vir adjunkhoofregter Raymond Zondo, in sy hoedanigheid as voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, ’n belangrike kolfbeurt toegedeel.

Oud-pres. Jacob Zuma se flagrante minagting van die oppergesag van die reg, deur op ’n onwettige manier sy hakke vir die Zondo-kommissie te wys, is maar net nog ’n episode in die eertydse ANC-liefling se ondermyning van die Grondwet. Daarom het die konstitusionele hof byvoorbeeld reeds bevind dat hy sy ampseed geskend het met die bou van sy Nkandla-staatskapingspaleis.

As hy en sy trawante toegelaat kan word om sonder toestemming by ’n kommissie uit te loop, wetend dat dit in die openbare oog is, hoe sal ’n kultuur van wetteloosheid in die land ooit genees kan word? Dit skep ’n presedent waarvolgens enige Suid-Afrikaner voortaan kan besluit of hy vir ’n kommissie van ondersoek, parlementêre komitee of selfs hofsitting wil opdaag. Wat vir elke burger geld, moet ook vir Zuma geld.

Hy het geen ander keuse as om Zuma strafregtelik te laat vervolg nie.

Daarom word Zondo se reaksie op Zuma se uitdaging met ’n vergrootglas dopgehou. Hy het geen ander keuse as om Zuma strafregtelik te laat vervolg nie. Dit is die enigste reaksie wat moontlik is om Zondo se persoonlike geloofwaardigheid, dié van die kommissie, regbank, regstelsel en oppergesag van die Grondwet te beskerm.

Die regsbetoog namens Zuma voor die kommissie wat ontken dat daar iets soos staatskaping bestaan, bewys sy mentaliteit dat staatsgeld die persoonlike plesierpot van politici is.

Die ANC se volgehoue omarming van Zuma as ’n lid en stilswye oor sy optrede is betekenisvol. Dit lyk na ’n erkenning dat hy nog op ’n manier ’n greep op die magshefbome in die organisasie het. Of dat daar steeds simpatie met hom as “eertydse vryheidsvegter” is waarvan die status ’n mens mos van vele misdade vrywaar.

Hier is volle vertroue dat Zondo die regte ding sal doen. Anders sal burgerlike organisasies dit namens hom moet doen.

Zuma se stigting het namens hom uitdagend verklaar dat hy tronkstraf sal verkies bo om deur die kommissie “geboelie” te word. Gee hom dan gerus wat hy vra.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Besluit  |  Hoofartikel  |  Anc  |  Vervolging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.