Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Beeld sê: Ampie Coetzee het dapper heel voor baklei
Prof. Ampie Coetzee Foto: Leanne Stander

Hy het altyd voor baklei. ’n Beskeie en ’n dapper mens. Hy was lief vir sy taal en hy het sonder voorbehoud om die inklusiwiteit daarvan geveg. ’n Letterkundige aktivis vir wie Afrikaans ’n woning vir baie kon bied.

Dit was Ampie Coetzee.

In huldeblyke wat ná sy dood verlede week ingestroom het, is hy ’n “onverskrokke donner”, ’n kameraad en vriend genoem met verwysing na sy, Van Zyl Slabbert, Max du Preez, Breyten Breytenbach, Jakes Gerwel en ander se besoek in 1987 aan die ANC in Dakar.

Coetzee was ’n gewilde dosent in Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en later die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Hy was ook medestigter van die ondergrondse uitgewery Taurus, wat boeke uitgegee het waaraan hoofstroomuitgewers te midde van streng sensuur onder apartheid nie wou raak nie.

Vier van sy boesemvriend Breytenbach se digbundels het by Taurus verskyn. Later het hy ook ’n instrumentele rol gespeel om Breytenbach se gedigte weer by ’n gevestigde uitgewery gepubliseer te kry. Hy het Breytenbach se gedigte ook in Engels vertaal en word as die voorste kenner daarvan beskryf.

In baie van die huldigings word sy unieke humorsin – altyd byderhand en trefseker – onthou.

Tot onlangs was hy betrokke by die Breytenbach-sentrum, ’n kuns-en-kultuursentrum in sy tuisdorp Wellington, waar die Tuin van Digters jaarliks aangebied word. Dit is ’n ware tuiste vir die kunste wat hy met groot en volgehoue sorg op die been gebring en help in stand gehou het.

Letterkundiges loof hom vir die prominente rol wat hy gespeel het om letterkundige verbintenisse met politieke vraagstukke te maak.

Boeke soos ’n Hele os vir ’n ou broodmes: Grond en die plaasnarratief sedert 1595, Letterkunde en krisis en Marxisme en die Afrikaanse letterkunde het uit sy pen verskyn en Coetzee was ook die samesteller van verskeie publikasies.

In baie van die huldigings word sy unieke humorsin – altyd byderhand en trefseker – onthou.

Baie ander onthou die aansit by die bobaaskok se tafel vir een van sy skeppings, met herinnerings aan gesellige kuiers by ’n bord kos wat uit niks omgeskep is in iets lekkers.

Oud en jonk treur oor ’n vriend en mentor wat diep spore in Afrikaans getrap het.

Meer oor:  Ampie Coetzee  |  Hoofartikel  |  Afsterwe  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.