Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Beeld sê: Net bekwame leiers kan SA krieket red
Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: Argief

Krieket Suid-Afrika (KSA) moet na die belange van spelers omsien, maar hy is nou ’n onbevoegde verleentheid wat nie spelers se belange verteenwoordig nie, maar dit in die gedrang bring.

KSA se arrogansie word opgesom in ’n brief wat Beresford Williams, die waarnemende president, op 9 Oktober aan Nathi Mthethwa, die minister van sport, gerig het. Daarin sê Williams die minister het geen reg om te vra dat KSA-raadslede afstand moet doen van hul pligte nie.

Mthethwa was woedend. Volgens hom ondersteun hy bloot die moederliggaam vir sportfederasies in die land, Saskok, se plan om in te gryp by die beleërde KSA. Saskok vra al maande dat KSA se raad opsy staan sodat ’n taakspan sy bestuursprobleme kan ondersoek. KSA weier. Ná talle samesprekings tussen Mthethwa en KSA het hy verlede week sy voet neergesit. Hy het die beheerliggaam – én die Internasionale Krieketraad (IKR) – verwittig dat hy volgens die Wet op Sport en Ontspanning by KSA gaan ingryp, tensy KSA voor 27 Oktober sê waarom hy dit nié moet doen nie.

Politici se inmenging in sport is ongewens en strydig met die IRK se grondwet, en die wêreldliggaam hou hom vir eers uit die geveg.

Politici se inmenging in sport is ongewens en strydig met die IRK se grondwet, en die wêreldliggaam hou hom vir eers uit die geveg. Maar as Mthethwa wel ingryp, kan die IKR Suid-Afrika se posisie as lidland hersien en boonop Engeland se beplande toer in die gedrang bring.

Dit lyk of Mthethwa net van sy voorneme sal afsien as KSA gehoor gee aan Saskok se eise. Ook Saca, die spelersvereniging, vra dat die KSA-raad bedank. So waarom bly die raad aan?

Die amptelike KSA-antwoord is dat die raad kans moet kry om sy “padkaart” vir die toekoms in werking te stel. Op die jaarvergadering op 5 Desember sal ’n nuwe raad in elk geval verkies word. Maar die inploffing van KSA kan direk voor die deur van lede van die raad gelê word. Williams was byvoorbeeld ’n lid van die komitee wat die vorige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, aangestel het sonder dat hy die nodige kwalifikasies gehad het. Dít is grotendeels waar die probleme begin het.

Sonder die regte leierskap is krieket gestonk. Pleks dat KSA deur doeltreffende bestuur ongewensde regeringsinmenging uit die sport hou, het hy dit juis ontlok. Uiteindelik is dit die spelers en ondersteuners wat die prys betaal.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Ksa  |  Sport  |  Verval  |  Hoofartikel  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.