Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Beeld sê: Stuit nou die glybaan na Engels aan US
Die Rooiplein op die Universiteit Stellenbosch se kampus. Foto: Argief

Dis hoog tyd dat die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) nou oop kaarte speel met sy studente, alumni en skenkers oor wat hy werklik in die mou voer oor die gebruik van Afrikaans aan dié universiteit. Daar is toenemend aanduidings dat die plan maar eintlik is om Engels af te dwing as uitsluitlike onderrigtaal.

Dit mag onder geen omstandighede gebeur nie.

Twee jaar gelede het Gelyke Kanse in ’n saak voor die konstitusionele hof aangevoer die US se meertaligheidsbeleid van 2016 is die dood in die pot vir Afrikaans by dié universiteit en gevra dat 2014 se taalbeleid weer ingestel word. Die hof het bevind dat die 2016-beleid wel grondwetlik is.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en regter Johan Froneman het wel kritieke voorbehoude uitgespreek, wat nou weer uiters relevant is.

Froneman het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die ruimte wat die Grondwet vir moedertaalonderrig laat, proaktief op te eis. In sy redenasie verwys hy ook na ’n nuwe soort bevoorregting wat die oorheersing van Engels as onderrigtaal skep en dat dít, veral in die Wes-Kaap, kan neerkom op die uitsluiting van veral arm bruin mense.

Duidelik is dit nou meer as ooit tevore nodig by die US. Wat is die US se antwoord daarop?

Die uitdaging aan die US-bestuur wat opgesluit is in Froneman se uitspraak, is inderdaad dat praktiese oplossings, spesifiek aan die US, gevind moet word.

Froneman skryf: “Die bitter waarheid is dat sy armoede en agterstand in Engels hom selfs slegter af laat. Dit is ’n diep ontstellende onreg.”

Met dié kragtige redenasie gooi Froneman koue water op die opvatting wat in sekere geledere by die US – en ook in die regering – posgevat het dat Afrikaans per definisie uitsluitend is en dat Engels per definisie die volmaakte taal van insluiting is. Dit is nie die geval nie en dié idee staan beslis nie in diens van die soeke na praktiese oplossings in ons meertalige leefwêreld nie.

Dit is verlede week ook bevestig deur die gesamentlike verklaring van die Afrikaanse Taalraad en die DAK-netwerk wat diep kommer uitgespreek het oor versnellende verengelsing aan die US.

Die uitdaging aan die US-bestuur wat opgesluit is in Froneman se uitspraak, is inderdaad dat praktiese oplossings, spesifiek aan die US, gevind moet word. Hy is reg, want daarsonder gáán dit wat by Maties teoreties ’n verbintenis tot meertaligheid is, in die praktyk neerkom op die stelselmatige vermeerdering van die Engelse onderrigaanbod en die afskaling van die Afrikaanse aanbod.

Daar moet dus nuut gedink word. Van binne en buite die US moet die fokus lê op sekere praktiese werklikhede. Van binne die US sal byvoorbeeld ’n veel sterker erkenning moet wees van die pedagogies gefundeerde waarde van moedertaalonderrig. Dit moet help verseker dat die teoretiese ruimte wat die taalbeleid tot nou toe wel vir meertaligheid laat, ook daadwerklike, praktiese inslag kry.

Dis wat die Grondwet ook vra.

As die taalbeleid ’n werklike verbintenis tot meertaligheid moet wees eerder as net ’n soort vrywaringspolis, gaan dit baie geld en moeite kos. In ag genome die grondwetlik verskanste beginsel van meertaligheid rus daar ook ’n morele plig op die skouers van die regering om die universiteit ruim daarmee by te staan. Dit gaan dan ook van Afrikaanssprekendes afhang of die reg op Afrikaans as onderrigtaal by Maties opgeëis gaan word. Daarsonder sal Afrikaans geleidelik wegkwyn en dít sou tragies wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.