Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Volksblad sê: As Amerika of Iran nie halt roep, sal oorlog volg
Pres. Donald Trump van die VSA het sanksies teen Iran ingestel.

Die meeste oorloë breek op een van twee maniere uit. Een is ’n doelbewuste provokasie om die vonk in ’n kruitvat te verskaf; by die ander gly die partye as’t ware onbedoeld daarin.

Die Tweede Wêreldoorlog was ’n voorbeeld van eersgenoemde; die Eerste Wêreldoorlog van laasgenoemde. In ons eie dae lyk dit nou of Amerika en Iran op die tweede soort kan afstuur – tensy een van die twee duidelik halt roep.

Eintlik sit Amerika en Iran al sedert die Islamitiese Revolusie van 1979 nie langs een vuur nie. Dinge het veral geëskaleer sedert pres. Donald Trump in 2017 die internasionale ooreenkoms ter beperking van Iran se kernwapen-ambisies opgeskeur het.

Nadat Sjiïtiese milisies Amerikaanse militêre teikens onlangs aangeval het waarin ’n Amerikaner dood is, het die Amerikaanse lugmag teruggeslaan. Altesame 25 Irakiërs het in ’n Amerikaanse lugaanval gesterf.

Dit het gelei tot ’n woedende menigte wat die Amerikaanse ambassade in Bagdad beleër en met klippe bestook het. Amerika se antwoord was om ’n ekstra infanteriebataljon uit Koeweit na Bagdad te stuur.

Dit kan wees dat Trump hiermee ’n grens oorgesteek het.

En toe kom wat moontlik die laaste strooi kan wees: ’n Amerikaanse lugaanval waarin die Iranse genl.maj. Kassem Soleimani (bevelvoerder van die Iranse magte in Irak en Sirië) gesterf het. Dit op bevel van Trump self, na bewering omdat Soleimani aanslae teen Amerikaanse teikens in Irak voorberei het.

Dit kan wees dat Trump hiermee ’n grens oorgesteek het. Soleimani was die naaste aan wat Iran aan ’n nasionale militêre held gehad het, en sy dood het ’n golf van witwarm haat in Iran meegebring.

Wat die erns van die saak weergee, is dat die Irakse regering hom nou ook teen Amerika keer. Dis glad nie onmoontlik dat Amerika nou opdrag kan kry om alle soldate uit die land te onttrek nie.

Dis te vroeg om besliste voorspellings te maak. Maar in dié stadium verloop sake volgens die klassieke voorbeeld van eskalasie – een handeling gee aanleiding tot ’n volgende, ensovoorts.

Die einde, so lyk dit, kan ’n volskaalse oorlog tussen Amerika en Iran wees.

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Iran  |  Politiek  |  Oorlog  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.