Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Volksblad sê: Biden geen 'Sleepy Joe'
Pres. Joe Biden Foto: Reuters

Selde in die Amerikaanse geskiedenis het ’n president se eerste 100 dae in die Withuis só ’n warrelwind van aktivisme opgelewer as dié van pres. Joe Biden. Die spotwoord “Sleepy Joe” waarmee sy teenstanders hom probeer treiter, geld nie vir hom nie.

Terselfdertyd: Selde in die Amerikaanse geskiedenis was daar ’n president wat só na aan ’n finansiële afgrond beweeg as Biden. Met sy drie stimuleringspakkette – die herstel van die verwaarloosde infrastruktuur, die bestryding van die koronavirus-pandemie en die bevordering van werkgeleenthede – neem hy ’n wissel op die toekoms wat toekomstige geslagte sal moet betaal.

Die omstandighede waarin die pakkette, ter waarde van $6 000 miljard, hul werk moet doen, is onbekende terrein. Nooit tevore moes ’n president ’n land se ekonomie probeer herstel te midde van só ’n ongekende pandemie as juis nou nie.

Daarom kan niemand wat iets van die ekonomie weet met sekerheid voorspel wat die toekoms inhou nie. Dus maak sowel diegene wat juig as dié wat Biden verketter hulle skuldig aan ’n voorbarige oordeel.

Op internasionale politieke terrein het hy talle van sy voorganger, Donald Trump, se dwaashede reggestel.

Biden het in die 100 dae natuurlik baie meer gedoen as net die stimuleringspakkette.

Op internasionale politieke terrein het hy talle van sy voorganger, Donald Trump, se dwaashede reggestel.

Hy het Amerika weer deel gemaak van die Verdrag van Parys om die klimaatverwarming teen te staan. Hy probeer saam met ander lande weer met Iran onderhandel om dié se ontwikkeling van kernwapens te keer.

Hy werk weer sáám met sy bondgenote in Navo en Asië, pleks van téén hulle. Hy koester die Russiese diktator, pres. Wladimir Poetin, nie meer nie, maar stel dié se afskaffing van die demokrasie en die aggressie teen Rusland se buurlande aan die kaak.

Biden beskou China nie meer eensydig as ’n ekonomiese mededinger nie, maar as ’n gevaar vir die globale vrede en veiligheid.

Biden waag ook geweldig baie deur Amerikaanse troepe aan Afganistan te onttrek, maar hier sit hy Trump se beleid voort.

Wat ’n mens dus ook al van Biden wil dink, slaperig is hy gewis nie.

Meer oor:  Joe Biden  |  Beleid  |  Presidentskap  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.