
Joe Biden saam met sy verkiesingsmaat, Kamala Harris. Foto: Reuters
Joe Biden, die Demokrate se kandidaat, se keuse van Kamala Harris as sy verkiesingsmaat bring ’n vars dimensie aan die Amerikaanse presiden-siële verkiesingstryd wat tot nou deur die gewone moddergooiery gekenmerk is.
Die vraag is of Harris ’n Biden-troefkaart teen pres. Donald Trump of ’n kitswonder gaan wees.
Trump, ’n “ontwrigter” van formaat, het sedert 2016 as “commander in chief” politieke patrone en internasionale betrekkinge versteur.
Of hy gaan oorleef, is van wêreldbelang. En vir die onderskeie kampe oral vír en téén hom ’n emosio-nele saak. Boonop is Amerika Amerika en wat daar gebeur dra gevolge vir die res van die planeet.
Harris tree as Biden se verkiesingsmaat toe in ’n tyd van skerp verdeeldheid in Amerika. Of sy ’n grensverskuiwer sou kon wees, sal eerstens deur die uitslag van die verkiesing bepaal word.
Uiteraard word groot gewag daarvan gemaak dat sy Amerika se eerste vroulike vise-president – en boonop ’n swart een – sou kon word.
Die vergesigte in omloop herinner aan die geesdrif – hoewel nie oral nie – oor Barack Obama as die eerste swart Amerikaanse president in 2008.
Die vergesigte in omloop herinner aan die geesdrif – hoewel nie oral nie – oor Barack Obama as die eerste swart Amerikaanse president in 2008.
Menings oor haar deelname wissel na gelang van wie dit kom. “Slow Joe. Phony Kamala. Perfek saam. Verkeerd vir Amerika,” sê Trump. Eweneens verras Obama en oudpres. Bill Clinton se gulle verwelko-ming van haar nie.
Sover dit bekwaamheid as ’n regsgeleerde en poli-tieke ondervinding betref, is Harris bestem vir hoër louere. Sy was prokureur-generaal van Kalifornië en ’n tweede senator vir dié staat.
Teenstemme klink op dat sy bra populisties is en nie die progressiewe hervormer wat sy voorgee om te wees nie. Kritiek waaraan Suid-Afrikaners dalk swaar sal sluk, is dat sy te “hard” op misdaad was.
Ook bring Harris op ’n “jeugdige” 55 vir Biden (77) op persoonlike vlak die energie waaraan sy veldtog tot nou geskort het. Biden het ’n voorsprong bo Trump in gewildheidspeilings, maar is sekerlik nie onbewus daarvan dat Harris nóg gewilder is.
Die vise-presidentskap is al die onbenulligste pos in Amerikaanse politiek genoem. Maar net totdat die dienende staatshoof sterf.
Sonder voorspooksels daaroor, is dit des te meer ’n rede hoekom die uitslag op 3 November stip gevolg gaan word.