Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Volksblad sê: Skuldlas en vakbonde het SA in wurggreep
Tito Mboweni
Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Deaan Vivier

Tien jaar gelede was Suid-Afrika se staatskuld as persentasie van die BBP nog gemaklik onder 30%. Dit is vandag 60%, en kan oor nege jaar in 2028 op 80% staan. Laat dit ’n bietjie insink.

Tito Mboweni, minister van finansies, was met verlede week se mediumtermynbegrotingsraamwerk eerlik oor die groeiende skuldlas van die regering te midde van ’n ekonomie wat stagneer en belastinginkomste wat dus drupsgewys inkom, tesame met geldvrate soos Eskom, die staat se salarisrekening en grootskaalse vermorsing wat dinge net verder bemoeilik.

Mboweni val terug op dieselfde pogings van sy voorgangers om dié skewe prentjie reg te trek – sny luukshede; bevries verhogings, bonusse en poste; vlieg net ekonomiese klas; sny selfooneise; hou loonverhogings inflasieverwant.

Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene voor hom het ook geraas oor die staatsdiens se salarisrekening wat handuit ruk en inflasieverwant moet bly. Maar hulle kon dit nie regkry nie.

’n Werkskeppende ekonomie sal ook help om die las af te haal van daardie ander item wat aan staatsbesteding wegvreet – welsynstoelaes.

Met die ideologieverblinde vakbonde se ystergreep op die ANC-regering gaan Mboweni dit ook nie regkry nie.

Sy enigste antwoord is om die ekonomie te laat groei, want ’n groeiende ekonomie sal belastinginkomste laat verbeter. Meer mense wat werk het en salarisse of hul eie inkomste uit entrepreneurskap verdien, sal goedere en dienste kan koop en belasting betaal, wat die staat beweegruimte sal gee om sy skuldvlakke te verlaag.

’n Werkskeppende ekonomie sal ook help om die las af te haal van daardie ander item wat aan staatsbesteding wegvreet – die welsynstoelaes wat aan miljoene mense uitbetaal word.

Ook hier loop Mboweni hom in die vakbonde vas. In die jongste weergawe van sy belowende plan vir ekonomiese groei is die rooi pen van die vakbonde reeds te sien deurdat voorstelle vir ’n vryer arbeidsmark vir kleinsake geskrap is.

Om die scenariobeplanner Clem Sunter aan te haal: Dit is ’n mite dat Pretoria sal sorg. Alle Suid-Afrikaners wat in die land glo, sal ondanks die versperrings van ’n onbeholpe regering en ’n hardnekkige vakbondwese met blote vernuf, toewyding en harde werk die ekonomie uit hierdie skuldstrik moet loswikkel.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ekonomie  |  Vakbonde  |  Skuldig  |  Bbp  |  Skuldlas  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.