Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger en Volksblad sê: Trump vs. Twitter met demokrasie as slagoffer
Pres. Donald Trump Foto: Getty Images

Hoe ver strek die vryheid van spraak? Op die oomblik worstel selfs die moeder van alle moderne demokrasieë, Amerika, daarmee.

Dit na aanleiding van ’n witwarm rusie tussen pres. Donald Trump en Twitter.

Omdat die tradisionele media (koerante en televisie- en radiostasies) oënskynlik Trump se standpunte nie entoesiasties genoeg na sy sin weergee nie, neem hy sy toevlug tot die sosiale medium Twitter, waar hy sy standpunte ongefiltreer aan sy ondersteuners kan oordra.

Deel van die probleem is ewenwel dat Trump ontelbare bewysbare leuens langs dié weg kwytraak.

Soos dat “miljoene” onwettige immigrante in 2016 vir die Demokrate gestem het, dat oudpres. Barack Obama sy telefoon laat afluister het, dat die televisie-aanbieder Joe Scarborough ’n moordenaar is, en nog baie ander. Wanneer hy om bewyse uitgedaag word, raak hy eienaardig stil.

Selfs die uiters konserwatiewe aanlyn tydskrif National Review, wat die Republikeinse Party meestal steun, noem Twitter ’n “onweerstaanbare uitnodiging om dinge te sê wat sy (Trump se) amp onwaardig is”.

Gevolglik het Twitter, wat Trump jare lank sy gang laat gaan het, verlede week begin om skakels onderaan sommige van sy twiets te plaas wat lesers lei na webwerwe waar die president se leuens aan die kaak gestel word.

Twitter het selfs verder gegaan deur ’n Trump-twiet oor die onluste in die stad Minneapolis, wat geweld glo verheerlik, moeiliker toeganklik vir lesers te maak.

Trump het woedend gereageer, Twitter daarvan beskuldig dat hy konserwatiewe stemme “sensureer” en ’n dekreet onderteken wat sosiale media se immuniteit teen hofsake beperk.

Twitter het selfs verder gegaan deur ’n Trump-twiet oor die onluste in die stad Minneapolis, wat geweld glo verheerlik, moeiliker toeganklik vir lesers te maak.

Dit alles wys hoe ongelooflik gepolariseer die politieke debat in Amerika is. Dis waar dat die demokrasie ’n sekere mate van polarisering verg, maar in Amerika gaan dit alle perke sodanig te buite dat dit die demokrasie bedreig.

Vryheid van spraak is ’n hoofpilaar in elke demokrasie. As sodanig moet Trump kan sê wat hy wil, solank hy nie mense tot geweld oproep nie, en sy teenstanders moet sy leuens sonder beperking aan die kaak kan stel. Die rusie moet ter wille van die demokrasie so gou moontlik gestaak word.

Meer oor:  Donald Trump  |  Twitter  |  Demokrasie  |  Vryheid Van Spraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.