Die begeerte om Brexit ná drie jaar se politieke chaos agter die rug te kry was ongetwyfeld ’n belangrike rede vir die Konserwatiewe Party se onomwonde oorwinning in vandeesmaand se algemene verkiesing.
Immers, premier Boris Johnson se standpunt ten gunste van Brexit was glashelder teenoor die digte wolk mis wat oor die Arbeider-leier, Jeremy Corbyn, se houding gehang het.
Maar dit sou ’n fout wees om die oorwinning slegs aan die Brexit-kwessie toe te skryf. In sekere sin kan die uitslag beskou word as ’n sege vir een van Johnson se voorgangers, wyle Margaret Thatcher.
Thatcher was die leier wat onbeskaamd ’n konserwatiewe sosiaal-ekonomiese beleid gevolg het. Met ander woorde, finansiële dissipline om nie meer uit te gee as wat die staatskas bykry nie, voldoende ruimte vir die private sektor om werk te skep en vir die gemeenskap om sover moontlik op eie bene te staan en nie vir alles van die staat afhanklik te wees nie.
In die jare negentig het die destydse Arbeider-leier, Tony Blair, daardie les geleer. Hy het dramaties afgewyk van die sosialistiese beleidsrigtings van sy voorgangers, en sukses by die stembus behaal.
Dis natuurlik ’n vraag hoe Johnson sy politieke kapitaal gaan bestee.
In die pas afgelope verkiesing wou Corbyn, ’n linkse ekstremis, terug na die onwerkbare linkse idees van sy mislukte voorgangers. Hy het die prys daarvoor betaal. In die Arbeider-geledere het nou ’n amperse burgeroorlog uitgebreek oor wie Corbyn moet opvolg. Die breuklyn tussen sentriste en linkse ekstremiste is duideliker as ooit.
Dis natuurlik ’n vraag hoe Johnson sy politieke kapitaal gaan bestee. Hy is een van die mins betroubare politici in die land, wat sy seile na die wind span.
Hoe ook al, die Suid-Afrikaanse regering kan gerus met belangstelling na die Britse uitslag kyk. Hier by ons sien jy immers dieselfde breuklyn in die ANC as by die Arbeiders.
Pres. Cyril Ramaphosa sal goed vaar as hy die verskil tussen die Blair- en Corbyn-benadering bestudeer. Suid-Afrika is veel armer as Brittanje, en die ruimte vir sosialistiese uitspattighede is hier veel kleiner as daar.
Leer daaruit.