Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: DA sal stryd om eerste burger fyn moet bestuur
Geordin Hill-Lewis Foto: Lerato Maduna

Volgens alle aanduidings lê ’n fel stryd in die DA voor om te bepaal wie dié party se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad in die komende plaaslike regeringsverkiesings gaan wees.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het bevestig dat hy sy naam in die hoed gaan gooi teen Dan Plato, die huidige burgemeester. Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en LUR vir vervoer en openbare werke, het ook bevestig hy sal staan.

Die saak moet vanuit twee hoeke beskou word.

Aan die een kant kan gesonde politieke mededinging binne partye ’n kragtige bron van vernuwing wees. Die voorwaarde is egter dat die kandidate die geskrewe en ongeskrewe spelreëls moet nakom sodat die water in die res van die party nie in die proses vergiftig word nie. Dit vra byvoorbeeld dat die kandidate hul veldtogte voer op so ’n wyse dat hulle hul eie sterk punte belig, maar nie negatiewe veldtogte bedryf waarin hul mededingers met modder gegooi word nie.

Dink aan die epiese gevegte om die koppe van mense soos John Steenhuisen, Patricia de Lille, Helen Zille en Lindiwe Mazibuko.

Aan die ander kant kan jy tereg vra wat die kanse is dat die veldtogte in die bogaande gees gaan verloop, aangesien die DA die afgelope paar jaar toenemend worstel met ’n probleem van verdeeldheid en interne bekgevegte oor alles van beleidsake tot die keuse van ampsdraers in topposisies.

Dink aan die epiese gevegte om die koppe van mense soos John Steenhuisen, Patricia de Lille, Helen Zille en Lindiwe Mazibuko. Dikwels speel ras ’n sentrale rol in die twiste en al word die strydbyle soms begrawe, trek strydendes dikwels nooit weer in een rigting aan die partywa nie.

Dit sal die DA enorme skade berokken as ’n vernietigende partytwis ontstaan uit dit wat veronderstel is om gesonde mededinging te wees rondom die kandidatuur vir burgemeester van Kaapstad. Die DA in die Wes-Kaap het ’n geskiedenis van verdeeldheid en die party moenie vergeet dat Kaapstad voorheen geregeer is deur ’n brose koalisie wat bestendige bestuur erg bemoeilik het nie.

Die ANC wys op daaglikse basis hoe doeltreffende en bestendige regering deur faksievorming in die wiele gery word. Moenie die kiesers teleurstel deur dieselfde fout te maak nie.

Die DA het in die 2016-verkiesing die Kaapstad-metroraad met 66,6% gewen – ná groei vanaf 60,9% in 2011 se verkiesing.

Die party durf nie dié groei in gedrang bring nie.

Meer oor:  Geordin Hill-Lewis  |  Dan Plato  |  Burgemeester  |  Hoofartikel  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.