Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: Dié dooiegewig nie meer vir SA bekostigbaar

Gegewe die ANC se koerslose getjommel oor sake wat die land se ekonomie oor dieafgrond kan dwing, was die afgradering van Suid-Afrika se skuldposisie deur Standard & Poor’s en Fitch in talle opsigte te wagte.

Internasionale banke gebruik die graderingsagentskappe om te bepaal hoe veilig hul geld in ’n sekere land is. Die agentskappe kyk na dinge soos ekonomiese groeiverwagtinge en staatskuld om hul graderings te bepaal.

Dit word al hoe duideliker dat Suid-Afrika se staatskas binne die volgende dekade of wat op ’n fiskale afgrond afstuur as die regering met dié tempo van roekelose besteding aan welsyntoelaes en salarisse van ’n groeiende staatsamptenary voortgaan.

Voeg hierby die onvermoë van die geld-arm staatsmonopolie Eskom om elektrisiteit te verskaf, toenemende waterprobleme, kwynende infrastruktuur, ministers se teenstrydige idees oor die ekonomiese beleid, en die algemene afwesigheid van leierskap en ’n donker toekoms lê voor – tensy genoeg druk opbou om die ANC-regering daarvan te oortuig dat hy nie met pres. Jacob Zuma soos ’n dooiegewig om sy enkels kan voortploeter nie.

Soos voorheen al gesê, sal die regering moet toegee dat sy verbintenis tot die Nasionale Ontwikkelingsplan tot dusver bloot lippediens en skyn was. Dit is ’n uitstekende, weldeurdagte plan, maar dit is duidelik dat daar nie juis ’n politieke wil is om regtig erns te maak met die werklikhede wat dit uitspel nie. Daarvoor is die ANC-leierskorps te gefokus op sy eie sak, die kort termyn en stiksienige ideologiese magsvennote. Kortom, hy is te papbroekig om die moeilike besluite te neem.

Die uitdrukking lui dat jy nie ’n goeie krisis moet vermors nie. Wel, hier is wéér ’n geleentheid om die kollektiewe verstand mooi te fokus.

Pragmatisme is nodig – die erkenning dat die beste kundigheid in die private sektor en opposisiegeledere betrek moet word om saam sinvolle oplossings vir die reeks dreigende krisisse te vind: van ’n leniger, korrupsievrye staatsdiens tot meer soepel arbeidsregulasies, en ’n rompslompvrye omgewing waar entrepreneurs tot winsgewende werkskepping aangespoor word.

Meer oor:  Ekonomie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.