Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: Internasionale samewerking kán probleme oplos
Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Joe Biden van Amerika op die naweek se G7-beraad in Cornwall, Engeland. Foto: Presidensie/Twitter

Die pas afgelope spitsberaad van die G7 – die wêreld se sewe rykste lande – in Cornwall, Engeland, is natuurlik in talle verskillende opsigte van belang vir die internasionale gemeenskap en internasionale politiek.

Maar vir Suid-Afrika troon één besluit bo al die ander uit. Dit is naamlik die voorneme om ’n miljard dosisse Covid-19-entstof gratis aan die wêreld beskikbaar te stel. Pres. Joe Biden skenk namens Amerika 500 miljoen dosisse.

Vir Suid-Afrika, waar die poging om die land se burgers in te ent al haperend en stotterend vorder, is dit welkome nuus.

Hoeveel van dié miljard dosisse hul weg na Suid-Afrika sal vind, is nog nie duidelik nie, maar álles is in hierdie stadium te verwelkom om die wrede pandemie hok te slaan.

Dit is des te belangriker teen die agtergrond van die nuus dat minstens 2 miljoen dosisse by ons weggegooi sal moet word omdat die vervaardiger sekere maatreëls nie nagekom het nie.

Die sewe regeringsleiers wat die besluit geneem het, het dit nie gedoen omdat hulle sulke goeie mense is nie, maar hoofsaaklik omdat dit in hul eie belang is.

Nou moet ’n mens natuurlik nie naïef oor die G7-besluit wees nie. Die sewe regeringsleiers wat die besluit geneem het, het dit nie gedoen omdat hulle sulke goeie mense is nie, maar hoofsaaklik omdat dit in hul eie belang is.

Die ervaring van die afgelope anderhalf jaar met die virus is dat verskeie variante hul kop uitsteek. Variante het byvoorbeeld al in Brittanje, Brasilië en Indië opgeduik, en elkeen is nóg aansteekliker as die vorige een en nóg moeiliker om te bestry.

Indien net – of hoofsaaklik – die ontwikkelde wêreld ingeënt word, kry dié variante die kans om miljoene mense te besmet of om nóg nuwe variante voort te bring. Nie net kan dit die dood van tientalle miljoene mense beteken nie, maar die nuwe variante kan weer na die ontwikkelde wêreld uitgevoer word.

As die nuwe variante te veel van die ouer variante afwyk, kan dit beteken dat die inentings se waarde aansienlik beperk of uitgeskakel word. En dan bevind die mensdom hom weer waar hy in Januarie 2020 was.

Dít is die les van die pandemie: In die 21ste eeu kan jy grense probeer sluit, maar internasionale samewerking oor grense heen is die beste manier om probleme op te los.

Meer oor:  G7  |  Pandemie  |  Variante  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.