Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: Koronakrisis kan selfs Amerikaanse verkiesing bepaal
President Donald Trump reacts before speaking at a
President Donald Trump reacts before speaking at a rally at the Phoenix Convention Center, Tuesday, Aug. 22, 2017, in Phoenix. (AP Photo/Alex Brandon)

In welke mate die wêreld weens die koronakrisis op sy kop gekeer is, blyk uit die amper terloopse manier waarop die media oor die Demokraat Joe Biden se yslike oorwinnings in die voorverkiesings in die Amerikaanse deelstate Florida, Illinois en Arizona verslag gedoen het.

Normaalweg sou dit groot nuus gewees het, wat nog dae lank vir ontledings en opvolgberigte sou gesorg het. Die media het wel kennis daarvan geneem, maar die krisis het dit na die binneblaaie verdring.

Nietemin kan die wêreldwye koronakrisis ’n bepalende invloed op die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing in November hê. Twee aspekte is hier van belang.

Die eerste hiervan is die ekonomie. Die geykte insig is dat ’n president onder wie se regering die ekonomie gedy, ’n groot voorsprong het.

Tot onlangs het dit uitstekend met die Amerikaanse ekonomie gegaan. Peilings wys ook dat die meeste kiesers pres. Donald Trump die krediet daarvoor gee.

Dieselfde peilings wys ewenwel ook dat die meeste Amerikaanse kiesers Trump as ’n bullebak beskou, en dat hulle nie te veel vertroue in sy algemene leiding het nie.

Dieselfde peilings wys ewenwel ook dat die meeste Amerikaanse kiesers Trump as ’n bullebak beskou, en dat hulle nie te veel vertroue in sy algemene leiding het nie.

Dit bring ’n mens by die tweede element. As Trump met die hantering van die koronakrisis indruk kan maak en sterk leierskap aan die dag kan lê – van die soort wat in die Tweede Wêreldoorlog deur pres. Franklin D. Roosevelt en die Britse premier Winston Churchill getoon is – kan dit hom ’n verdere vier jaar in die Withuis besorg.

Die probleem is egter dat Trump tans ’n slingerende indruk maak. Hy het die krisis eers weke lank as onbeduidend afgemaak en selfs voorspel dat dit “wonderbaarlik” sal verdwyn.

Hy het wel einde Januarie reisigers uit China verbied, maar dit het ewe veel met sy voortdurende wedywering met pres. Xi Jinping van China as met die krisis te make.

Die afgelope week of wat het Trump oënskynlik wakker geskrik. Maar steeds dra hy geen inspirerende en konsekwente boodskap uit nie – dis die een dag warm en die volgende lou.

En tussenin snou hy joernaliste met lastige vrae ongevraag op mediakonferensies toe.

As Trump die verkiesing in November wil wen, sal hy sy sokkies moet optrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.