Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Beeld en Die Burger sê: Met ’n beleid uit die ark kan jy nie invloed uitoefen

Die SAKP, wat vandeesweek sy nasionale kongres hou, sal weer oorhoops lê met die vraagstuk oor sy verhouding met die ANC.

In wese gaan die vraag daaroor of die SAKP binne die regerende alliansie (waarvan Cosatu ook lid is) moet bly, en of hy eerder die alliansie moet verlaat om op sy eie mee te ding in verkiesings.

Die hele saak raak nou eintlik ’n bietjie lagwekkend, want in 2017 het die SAKP in der waarheid al die beginselbesluit geneem om wel op eie stoom aan verkiesings te begin deelneem.

Dít het hy weliswaar nog net een maal gedoen toe hy twee jaar gelede die magsbalans gehou het in die Metsimaholo-munisipaliteit in die Vrystaat.

Die SAKP het nie die moed van sy oortuiging gehad om die ANC in vanjaar se nasionale verkiesing die stryd aan te sê nie, of om sake tot sy logiese gevolgtrekking te voer en die alliansie te verlaat nie.

Vandeesweek sal daar oudergewoonte stemme opgaan dat die SAKP nie werklik invloed van binne die alliansie uitoefen nie, en dat hy beter daaraan toe sal wees om van buite af sy stem dik te maak. En die teenredenasie sal onder meer behels dat die SAKP-kuiken nog nie sterk genoeg is om die geveerde nes van die ANC-alliansie met al die voordele van ’n gevestigde partystruktuur en toegang tot geld en ander hulpbronne, te verlaat nie.

Die saak sal dan vurig gedebatteer word, maar die een punt wat nogmaals misgekyk sal word, is die grondliggende rede waarom die SAKP ’n gebrek aan invloed het. Dit spruit eenvoudig uit ’n gebrek aan relevansie wat gesetel is in die party se leë retoriek en rigiede beleidsdenke wat uit die ark kom. Namate pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, finansminister, se ekonomiese heropbouplan spoed optel, sal dié relevansiekrisis al erger word.

Die party weet dit ook maar te goed, en daarom is daar ook ’n groepering in sy midde wat begin stemming maak dat dr. Blade Nzimande sy kabinetspos as minister van hoër onderrig, wetenskap en tegnologie moet prysgee om voltyds aandag te gee aan sy amp as SAKP-hoofsekretaris.

Soos in die geval van die party, is Nzimande se twee posisies nie waar die werklike probleem lê nie. Nzimande is ná 21 jaar in dié amp die langsdienende partyleier in die land, en as sodanig is hy ervare genoeg om te weet sy eie gebrek aan invloed is ewe seer te wyte aan ’n gebrek aan relevansie.

Meer oor:  Sakp  |  Beleid  |  Anc  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.