Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: Op die Verenigde Koninkryk wag ’n tyd van spanning
Boris Johnson
Boris Johnson. Foto: Reuters

’n Eksistensiële krisis wag op die Verenigde Koninkryk.

Met die nuwe premier, Boris Johnson, wat kompromisloos op ’n Brexit – desnoods sonder ooreenkoms met Brussel – afstuur, word daar toenemend gefluister oor iets wat eeue lank ondenkbaar was: ’n uiteenval van die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Noord-Ierland.

Skotland skud sy vere reg vir onafhanklikheid. In Dublin lek die Ierse politici hul lippe af om Noord-Ierland, soos hulle dit sien, vir hul land te “herwin”, en selfs in Wallis neem die gemor toe.

Johnson se heel eerste uitdaging is ewenwel die oorlewing van sy regering.

Die kans bestaan dat ’n aantal Tory-LP’s wat nie met Johnson se Brexit-rigting saamstem nie ’n mosie van wantroue in sy regering ná die somerreses kan steun.

Of dit nou suksesvol is of nie, alles dui daarop dat Boris Johnson ’n vervroegde algemene verkiesing gaan uitroep.

Of dit nou suksesvol is of nie, alles dui daarop dat Johnson ’n vervroegde algemene verkiesing gaan uitroep.

As rebelle in die Arbeidersparty daarin slaag om hul links-populistiese leier, die Trotskiïs Jeremy Corbyn, deur ’n gematigde politikus te vervang, kan dinge lelik skeefloop vir die Tories.

Maar met Corbyn as Arbeiderleier het Johnson ’n goeie kans om polities te oorleef. Volgens die nuutste peiling kan die Tories 31% van die stemme trek, met 22% vir die Arbeiders en 21% vir die Liberale Demokrate.

Presies hoe dit die setelverdeling sal beïnvloed, staan weliswaar nog te besien.

Maar intussen berig Britse koerante ook dat die Tories in Skotland benoud is dat die party daar byna uitgewis gaan word.

Die nuutste peiling wys dat 46% van die Skotte in ’n referendum vír onafhanklikheid sal stem en 43% daarteen.

In 2014 het die Skotte met 55% teen 45% téén onafhanklikheid gestem, maar die chaos wat met Brexit gepaardgaan, begin die gevoelens blykbaar swaai. Skotland het al in die referendum van 2015 met 62% teen 38% teen Brexit gestem.

Afgesien van die vraag of Brexit ’n goeie of slegte saak is, bestaan die kans dat die prys wat die land daarvoor gaan betaal, onverwags hoog gaan wees.

’n Spanningsvolle tyd wag op die Verenigde Koninkryk.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Brexit  |  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.