Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Die Burger sê: Stilte oor blasers stel rugbyleiers in swak lig
Argieffoto: Getty Images

Die hoofstorie gister op die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se amptelike webwerf was een wat spog dat sy vrouerugbyspan op 7 September in ’n interprovinsiale eindstryd teen Grens gaan speel.

Nie ’n woord word gerep oor die “mishandeling” van skeidsregters wat dié unie se blasers genoop het om vandeesweek te begin staak nie. Gevolglik word daar tans nie klubrugby gespeel nie.

Dis ’n dawerende stilte as daar ooit een was en die WPRU se onwilligheid om ’n verklaring uit te reik waarin hy geweld teenoor skeidsregters ten sterkste veroordeel, stel sy leierskap in ’n swak lig.

Die wedstrydbeamptes se grootste bron van ontevredenheid spruit uit etlike voorvalle van geweld, intimidasie, doodsdreigemente en skeltaal uit klubgeledere teenoor skeidsregters. Dis nie ’n nuwe verskynsel dat só teenoor plaaslike skeidsregters in klubwedstryde opgetree word nie. Maar dat sulke dinge wel steeds gebeur, wys dat dit nie vantevore met die nodige erns gehanteer is nie.

Natuurlik maak skeidsregters rugbyondersteuners van tyd tot tyd warm onder die kraag, maar sonder hulle sal die spel nie gespeel kan word nie.

Natuurlik maak skeidsregters rugbyondersteuners van tyd tot tyd warm onder die kraag, maar sonder hulle sal die spel nie gespeel kan word nie.

Die belangrikheid van die voortbestaan van klubrugby, veral in die Kaap, waar die weermag al ontplooi moes word om bendes te probeer hokslaan, kan ook nie oorbeklemtoon word nie.

Dit het die potensiaal om kinders van die strate af te hou en gemeenskappe nader aan mekaar te bring. Ongelukkig lyk dit of die slegte elemente in klubrugby ook hoogty vier.

Natuurlik is niemand bo kritiek verhewe nie, maar as dit handuit ruk tot op ’n punt waar ’n skeidsregter met ’n bottel in die gesig gegooi word, kan dit eenvoudig nie meer geduld word nie.

Die enigste manier om dié soort gedrag hok te slaan is vir skeidsregters om botweg te weier om wedstryde van die betrokke klubs te hanteer.

Boonop moet die WPRU – hoe moeilik dit ook al vir verkose beamptes is wat deur van dié klubs in hul poste ingestem is – die betrokke klubs uit hul ligas en skuldige individue lewenslank skors.

Die standpunt wat die skeidsregters vir eers ingeneem het, verdien die hoogste lof.

Tot tyd en wyl die WPRU dié kwessie daadwerklik pak, sal die skeidsregterstaking hopelik onbepaald voortduur.

Meer oor:  Wpru  |  Skeidsregters  |  Rugby  |  Klubrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.