Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar:
KKNK en kunste se rol kritiek vir SA

In ’n tyd waarin Afrikaans en die kunste onder aansienlike druk verkeer, is daar ligpunte in die verskeie suksesse van die pas afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK).

Voorlopige syfers wys dat 6% meer teaterkaartjies as verlede jaar verkoop is. Kaartjieverkope vir die Uitkamp­teater het meer as verdubbel.

Dalk stof tot nadenke vir die doemprofete, maar terselfdertyd ook geen rede om op die louere te rus nie. Die syfers oor hoeveel mense dit bywoon en hoeveel geld bestee word, hoe belangrik ook al, vertel oplaas nie die volle verhaal van die fees nie.

Die KKNK is die markplein van die Afrikaanse kunstewêreld. Toneelstukke wat by die fees opgevoer word, word van Oudtshoorn tot die verste uithoeke van die land opgevoer. As sodanig hou die KKNK die spieël op om die wêreld en ons plek daarin krities te kan betrag. Dit is ’n belangrike forum vir nuwe idees waar mense uit verskillende gemeenskappe bymekaarkom, mekaar kan verryk om agterna dalk ons wêreld en sy dinge deur ’n nuwe, ruimer lewensbeskouing te sien.

Wat die nasionale dialoog betref, was die puik sprekers en lewendige debat in Die Burger se gesprekreeks nóg ’n aanduiding van die suurdeeg-effek wat die fees het. In onstuimige politieke, maatskaplike en ekonomiese tye – soos wat die land tans weer beleef – is die neiging dikwels onder die magshebbers om alternatiewe stemme en gesigspunte te wil smoor.

Soos Alida Kok, politieke wetenskaplike, deelnemer aan die gesprekreeks en rubriekskrywer in Die Burger, dit netjies gestel het: “As mense swyg, word despotiese mag genormaliseer en ons diverse burgerlike samelewing gaan lê nie sommer nie. So, ondersteun ons kunste, dink krities, neem deel aan gesprekke, vind alternatiewe maniere om toegang te skep tot die hulpbronne wat ons benodig om te leef en hernu só die uitvoerende gesag.”

Daarom was dit nogmaals inspirerend om die debat in Die Burger se gesprekreeks te kon gade- slaan. Die gehalte van lesers se bydrae was van ’n puik standaard en selfs al het die debat by tye warm geraak, is dit gevoer in ’n trant waarop Die Burger saam met sy lesers trots kan wees.

Die Burger se opregte dank dus aan elkeen wat in Media24 se Feeskafee kom luister en saamgesels het. Ons maak volgende jaar weer so.

Meer oor:  Hoofartikel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.