Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Die Burger en Volksblad sê

Diepe ANC-verdeeldheid, wisseling van steun vir leierskandidate, wanorde met provinsies se eie kieskonferensies en uitsprake oor intimidasie wek geensins vertroue in die geloofwaardigheid van die party se nasionale leierskonferensie in Desember in Gauteng nie.

Die na verwagting meer as 4 000 afgevaardigdes wys die nuwe ANC-leiers aan. As nog steeds die grootste politieke party, hou hul keuse regstreekse implikasies vir regeringsbestuur in.

Wie dié stemgeregtigdes is, asook hoe hulle aangewys word, is dus van deurslaggewende belang. Ongelukkig is hul aanwysing verdag weens “die endemiese manipulering van verkiesingsprosesse” – soos ANC-ringkoppe dit onlangs by monde van Murphy Morobe in ’n verklaring gestel het.

Naas kiesknoeiery en intimidasie, knou hofsake in Noordwes en Kwazulu-Natal en die gesloerdery met provinsiale leierskonferensies – in die Vrystaat nou eers in November – die legitimiteit van afvaardigings en dra by tot verwarring.

Eergister het Senzo Mchunu, uitgeskopte ANC-leier in KwaZulu-Natal, gesê hy vrees vir sy lewe weens die politieke onstabiliteit in dié provinsie.

Aan die Moerane-kommissie het Mchunu vroeër wel gesê die verbod (van Gwede Mantashe) op provinsiale of streekkonferensies ná 30 September sal nie Desember se kieskonferensie raak nie, omdat die afgevaardigdes regstreeks van takke kom. Tog word die takverkiesings gemanipuleer deurdat die datum of plek van takvergaderings op die nippertjie geskuif word (met kennisgewing slegs aan lede wat die bepaalde groep steun) en veiligheidswagte gebruik word om diegene sonder lidmaatskapskaarte toegang te weier.

Vir ’n party wat hom op ’n demokratiese werkwyse roem, is die proses vir die aanwysing van stemgeregtigdes erg lukraak, ondeurdag en vatbaar vir magsmakelary. Toenemende geluide oor ’n “eenheidskandidaat” help nie vrese besweer dat die party se leiersverkiesing – nes die staat – gekaap kan word nie.

Die netelige kwessie is wie se belange die afgevaardigdes werklik op die hart gaan dra.

Dit is jammer dat die party aan wie die bestuur van die staat toevertrou word, nie eens sy eie sake doeltreffend en bo verdenking kan bestuur nie.

Meer oor:  Verkiesing  |  Politiek  |  Hb  |  Kommentaar  |  Stemmery  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.