Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kommentaar
Kommentaar: Beeld, Die Burger en Volksblad sê
Magashule in SG-pos plaas Cyril onder druk

Die omstrede keuse van die politieke knoeier Ace Magashule van die Vrystaat in die magtige pos van ANC-sekretaris-generaal kan ’n wig wees wat die kloof tussen die party se strydende faksies tot barstens toe verdeel.

Die twis oor die “vermiste” 68 stemme in die stryd tussen Magashule en Senzo Mchunu van KwaZulu-Natal om die sekretaris-generaalskap op die nasionale konferensie by Nasrec vergestalt die tweespalt wat dreig om die party te laat skeur.

Ace Magashule, sekretaris-generaal.

Die beslissing gister was dat Magashule wel aanbly as sekretaris-generaal – die pos waarvoor hy Mchunu met ’n skamele 24 stemme geklop het.

Vir Cyril Ramaphosa as nuwe leier stel die party se keuse van Magashule, tesame met dié van David Mabuza van Mpumalanga, hom uit die staanspoor voor uitdagings wat politieke bedrewenheid soos min gaan verg.

Ramaphosa is in die netelige posisie dat hy die presidentskap van die party sónder sy eie leierspan neffens hom aanpak. Hy moet in dieselfde span trek as Magashule en Mabuza. Albei het hoë aspirasies, hul onkreukbaarheid is verdag en Magashule is ’n uitgesproke Zuma-kampvegter.

Van dié makkers in die topses kan Ramaphosa lippetaal sonder noodwendige steun verwag.

Inteendeel, hy sal pal oor sy skouer moet loer.

Ramaphosa het sy leiersveldtog op beloftes van uitwissing van korrupsie en staatskaping geskoei, maar is nou met die Gupta-besmette Magashule opgesaal terwyl Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, ook van Gupta-bande verdink word.

Voorts is Luthuli-huis nou Magashule se nuwe magsbasis. Van hier swaai hy en Duarte nou die septer oor ANC-takke landwyd. Oënskynlik pla dit Magashule-volgelinge nie dat die Vrystaat onder sy premierskap verval het en die provinsie se ANC-takke so in wanorde was dat teenstanders voorverlede naweek se provinsiale konferensie deur ’n hofbevel ongeldig laat verklaar het nie.

Ramaphosa is onder bykomende druk van diegene wat eis dat hy summier van pres. Jacob Zuma en ander staatskapers en korruptes ontslae raak en alles wat skeel, dadelik moet regruk.

Al die wederstrewige bestanddele dui op ’n magspel wat tot die verkiesing in 2019 en daarná beslissend vir die ANC – en die land – kan wees.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Senzo Mchunu  |  Vrystaat  |  Vermis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.